2013 was toe nie die jaar waarin jy 10 kg verloor het of ’n halfmarathon voltooi het nie. Dis dalk te laat om enigiets aan jou Nuwejaarsvoornemens vir vanjaar te doen. Maar as jy jou geldsake vir 2014 beplan, wag daar ’n blink nuwe jaar op jou, vol geldelike voordele. Hier is goeie geldplanne wat jou lewe makliker kan maak.

  • 1.    STEL ’N BEGROTING OP

Kry beheer oor jou finansies deur jou onlangse bankstate en rekenings na te gaan. Hou dagboek van jou daaglikse aankope en teken jou inkomste en uitgawes aan. Op die internet is nuttige begrotingshulpmiddels soos hierdie een van Absa.

2.    VERMINDER SKULD

Koop minder luukse items in die Kerstyd en gebruik die geld om skuld met die hoogste rentekoers vinniger te delg. Sodra dit afbetaal is, voeg die ekstra paaiement by jou volgende skuld met ’n hoë rentekoers, en hou so aan tot al jou skuld gedelg is. Sluit al jou winkelrekenings en spaar tot jy kan bekostig om kontant te koop. Deponeer ’n gedeelte van die geld wat jy maandeliks uitgee in jou kredietkaartrekening en moenie oortrokke raak nie. So kan jy ook ’n bietjie rente verdien.

  • SPAAR VIR JOU AFTREDE

Jy behoort ten minste 15 persent van jou bruto inkomste te spaar vir aftrede; as jy tot jou maatskappy se pensioenfonds behoort, maak seker jy spaar die maksimum toelaatbare bedrag. Mense leef deesdae langer en jy moet ten minste 10 persent meer spaar om seker te maak jou geld sal hou asook vir ander langtermynplanne. Tref reëlings vir ’n aftrekorder by jou bank. Om aftreebeleggings aan te vul, oorweeg nuwegeslag-annuïteite; hulle bied dieselfde belastingvoordele sonder baie van die koste en boetes.

  • 4.    SKEP ’N NOODFONDS

Baie mense word gedwing om geld te leen vir onvoorsiene krisisse soos siektes of afleggings. Probeer ’n noodfonds opbou wat gelyk is aan drie maande se salaris, wat jou swaarkry kan help.

  • 5.    STEL ’N TESTAMENT OP

As jy intestaat (sonder ’n testament) sterf, sal dit langer duur om jou boedel af te handel. Jou bates sal ook volgens die Wet op Intestate Opvolging verdeel word. Raadpleeg ’n kenner, of as jou boedel eenvoudig is, doen navorsing op die internet oor hoe om ’n geldige testament op te stel.

  • 6.    KYK NA JOU VERSEKERING

Kyk na jou motorversekering – jy betaal dalk te veel. Jou motor verloor elke jaar waarde, maar jy betaal dalk nog versekering op jou oorspronklike koopprys. As jou motor gesteel of afgeskryf is, sal ’n versekeraar net die boekwaarde van jou voertuig uitbetaal. Kontak die versekeraar een keer per jaar om die motorversekering en paaiemente in ooreenstemming te bring met die waarde van jou motor. Wat huisversekering betref, maak seker die dekking van jou polis is in ooreenstemming met die waarde van jou bates. Maak ’n lys van jou besittings en die vervangingskoste daarvan, en vergelyk dan die totaal met die versekerde bedrag. Hou al jou versekeringsdokumente en lees die fyndruk; baie polishouers weet nie waarvoor hulle alles kan eis nie. Algehele dekking sluit byvoorbeeld soms veeartskoste vir beseerde troeteldiere in. Jy kan dalk selfs eis as jou ouers in ’n aftreeoorde hul besittings verloor of vergoed word as jy of ’n familielid tydens ’n inbraak vasgebind word.

  • 7.    GAAN JOU POLISSE NA

Nader jou finansiële instellings en maak seker jou premies is nie agterstallig nie en jy het die regte begunstigdes. Kry kundige raad voor jy ’n polis kanselleer. As jy afhanklikes het maar nie lewensversekering nie, kry verskeie kwotasies, met inagneming van kommissie en betalingsvoordele, voor jy ’n polis kies. Kyk na die koste voor jy ’n studie- of begrafnispolis uitneem. Dit mag dalk beter wees om byvoorbeeld in ’n eenheidstrust of Satrix-indeksfonds te belê.

Bron: Helena Wasserman – Huisgenoot-argief