Ons gee jou elke week raad oor hoe om te spaar.

Die finansiële adviseur Warren Ingram sê die belangrikste ding is om skuld tot die minimum te beperk. “Bly so ver weg van skuld as wat jy kan.”

Hy waarsku in sy nuwe boek, Become Your Own Financial Advisor, teen almal wat gereed sit om vir jou skuld aan te bied. “Al die winkelrekeninge is baie aanloklik. Nes jy jou eerste vaste salaris verdien, verskyn hierdie kredietaanbiedinge om elke draai, en dis moeilik om die aantrekkingskrag te ignoreer van daardie mooi paar skoene, of die horlosie wat jy al so lank wil hê.”

Warren stel voor dat jy vir jou ’n kontantveiligheidsnet opbou: Spaar soveel geld as wat jy sou nodig hê vir drie maande se lewenskoste, maar verkieslik ses maande. Dit is dan jou veiligheidsnet vir enige onvoorspelbare, onverwagte uitgawes wat oor jou pad kom.

As jy genoeg kontant tot jou beskikking het, hoef jy nie geld te leen of oortrokke te raak en so ál verder agter te raak weens skuld en onnodige rente nie.

Deur Elna van der Merwe