Ál meer Suid-Afrikaners doen hul inkopies op die internet. In 2012 het Suid-Afrikaners in R3,3 biljoen aan aanlyn inkopies bestee, luidens statistieke wat MasterCard bekendgemaak het.

“Suid-Afrikaners was dalk aanvanklik huiwerig om aanlyn inkopies te doen, maar dinge het verander en die aantal mense wat dit doen, gaan aanhou groei,” verduidelik Martin Janse van Rensburg, ’n woordvoerder van Budget Insurance.

Of dit nou klere, ’n motor, versekering of reispakette is waarna jy soek, aanlyn inkopies raak ’n integrale deel van ons lewe. Dit is natuurlik ook baie gerieflik om in die gemak van jou sitkamer inkopies te doen.

Navorsing dui daarop dat 91 persent van Suid-Afrikaners wat aanlyn inkopies doen baie tevrede is daarmee. Besprekings vir fliek-, vliegtuig- en teaterkaartjies bly die gewildste.

Wees slim met aanlyn kopies

Jy kan geld bespaar met aanlyn kopies as jy dié wenke in gedagte hou, sê Martin:

  • Beplan vooraf wat jy wil koop en werk met ’n begroting. Besluit eers wat jy moet koop voor jy na die beste winskopies begin soek.
  • Pasop vir meegevoer raak. Bly gefokus en koop met dissipline.
  • Vergelyk verskillende webtuistes se pryse vir dieselfde produk.
  • Lees ander kliënte se resensies om vas te stel of hulle tevrede was met hul aankope.
  • Maak seker jy lees die bepalings en voorwaardes as jy dalk ’n produk wil terugstuur.
  • Kyk eers wat die vervoerkoste sal wees as jy ’n produk van oorsee bestel.
  • Gebruik ’n inkopie-app wat jou sal help om winskopies te kry, soos PriceCheck.
  • Maak seker jou rekenaar se antivirusprogram is bygewerk voor jy enige aanlyn inkopies doen.
  • Voor jy jou persoonlike en bankbesonderhede op die internet intik, maak seker die webtuiste is veilig. Daar behoort ’n slotsimbool onderaan die skerm te wees en die webadres moet met “https://” begin.
  • As jy ’n individu moet betaal, maak gebruik van ’n veilige aanlyn stelsel soos PayPal. Moet nooit geld regstreeks in ’n vreemdeling se bankrekening oorbetaal nie.
  • Betaal met ’n kredietkaart waar jy kan; dit gee ekstra beskerming.

Waarom wag? Spring sommer nou weg met jou eerste kopie by Spree.