Daar is niks wat jou so hulpeloos laat voel soos om die slagoffer van ’n aanlyn bedrogspul te wees nie. Maar wees bedag op enige e-pos wat dalk vreemd lyk; dit kan keer dat jy ingeloop word.

Brendon Williamson is die algemene bestuurder van sake-ontwikkeling by PayGate, ’n maatskappy wat gebruikers en ondernemings wat aanlyn koop, ’n veiliger manier bied om vir aankope te betaal. Hy gee hierdie nuttige wenke waarmee mense hulle kan beskerm.

1. Werk slim met jou wagwoorde

“Moenie dieselfde wagwoord vir meer as een webtuiste gebruik nie, moenie wagwoorde gebruik wat maklik is om te kraak nie – dit sluit enige woord in ’n woordeboek in – en moet nooit vir enigiemand vertel wat jou wagwoord dis nie.”

Hy sê as jy sukkel om al jou wagwoorde te onthou, moet jy belê in programmatuur vir wagwoordbestuur soos LastPass, Password Genie, Dashlane, KeePass, Norton Identity Manager, 1Password of enige ander goeie produk.

Lifehacker.com gee dié nuttige wenk om al jou wagwoorde te onthou: “Kies ’n basiswagwoord en pas dan ’n reël toe wat ’n vorm van die diens se naam behels.” Dit beteken jy kies een wagwoord wat jy vir elke webtuiste gebruik, maar voeg ’n stel syfers of simbole by elke wagwoord om dit van die res te onderskei. Die syfers of simbole moet met die webtuiste se naam verband hou sodat jy dit kan onthou.

As jou ma se verjaardag (moet nooit jou eie verjaardag gebruik nie) byvoorbeeld in Desember is, kan jou wagwoord DSMBR wees, en as jy ’n Gmail-rekening het, kan jou wagwoord DSMBR713 wees. Waar kom die syfers vandaan, vra jy? As jy die alfabet nommer van 1 tot 13, is G 7 en M 13.

2. Besef e-pos is onveilig

“Die maklikste om jou persoonlike inligting te kry, is om jou daarvoor te vra,” sê Brendon. Dit beteken jy kan nie e-posse vertrou wat jou persoonlike inligting vra nie, nie eens wanneer die e-pos van ’n diensverskaffer kom wat jy gewoonlik gebruik nie, soos jou bank, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens of ’n selfoonmaatskappy. “Dis eintlik ongelooflik maklik om ’n logo te kopieer, ’n e-posadres na te maak en jou as iemand anders voor te doen. Selfs by PayGate moet ons bedag wees op swendelaars wat ons logo en reputasie probeer gebruik om geld uit mense uit te kry.”

Hy sê daar is twee hoofsoorte verdagte e-posse. “Die eerste is enigiets wat lyk na geld vir niks, en die tweede is enigiets wat op jou vrees speel, soos om te sê iemand het jou bankrekening in gevaar gestel.”

As jy werklik bekommerd is, moet jy die bank self nader deur die nommer op te soek. Moet nooit op enige skakel in die e-pos klik nie.

“As jy op jou rekening wil aanmeld, moet jy die adres self by jou webblaaier intik. Kyk ook dat daar “https” vooraan die adres staan en dat die slot-simbooltjie daar is. Dit beteken jou webblaaier het ’n veilige verbinding met die webtuiste. Jy moet ook kan regsklik en die veiligheidsertifisering sien.”

3. Telefoonbedrog – Moenie my bel nie; ek sal jou bel

Brendon sê ’n mens moet enigeen wat jou kwansuis van jou bank, Microsoft of enige ander groot maatskappy af bel en persoonlike inligting vra, met uiterste agterdog bejeën. “As dit net jou bank se bedrogafdeling is wat bel om ’n ongewone aankoop te bevestig, sal hulle nie persoonlike inligting vra nie; net bevestiging oor die spesifieke transaksie.” Hy waarsku ook jy moet onder geen omstandighede jou ID-nommer, adres of bankbesonderhede oor die telefoon verstrek nie.

Jy moet ook onraad vermoed wanneer iemand vra hulle wil iets op jou rekenaar doen. Soos bo moet jy liewer die maatskappy se nommer opsoek en hulle bel.

Jy kan ook die vreemdeling toets as jy agterdogtig is, sê  hy. “Vra hulle moet sê wat die eerste ses syfers van jou ID-nommer of huisnommer is, dan verskaf jy die res. As hulle is wie hulle voorgee, behoort hulle hierdie inligting te sien. Jy moet dit in alle gevalle doen, al dink jy die oproep is eg.”