Moenie dink dis net ryk mense wat geld het om te belê nie. Jy kan begin sodra jy jou eerste salaris kry.

Hier is wenke vir beginners

Begin dadelik

Beleggings is ’n manier om rykdom oor ’n lang tydperk op te bou.

“Hoe gouer jy begin, hoe groter is die tydperk waarin jy opbrengs uit jou belegging kry,” sê Gusta Binikos, die hoof uitvoerende beampte van FNB-aandeelbeleggings.

Verstaan waarin jy belê

Belê beteken eintlik net jy laat jou geld op verskillende maniere vir jou werk. Een hiervan is om aandele te koop in ’n spesifieke maatskappy wat op die effektebeurs gelys is of in ’n ruilhandelfonds, ’n beleggingsfonds wat op die effektebeurs verhandel word.

“Dis belangrik om ’n basiese begrip te hê van die maatskappy waarin jy wil belê,” sê Gusta. “As jy nie die selfvertroue het om ’n spesifieke aandeel te koop nie, is ’n ruilhandelfonds ’n goeie manier om jou toegang tot ’n aantal verskillende aandele te gee.

Belê gereeld

Net soos dit belangrik is om gereeld te spaar, geld dieselfde beginsels vir belegging. Gereelde belegging sal jou rykdom bou namate jy meer aandele koop.

Moenie leen om te belê nie

“Dis ’n groot fout om geld te leen vir beleggings,” sê Gusta. “Niks is seker nie en daar is ’n kans dat jy geld sal verloor en op jou lening skuld, wat jou in ’n baie swak finansiële posisie laat.”

Moenie moed verloor nie

Beleggings is vir die lang termyn. Moet dus nie dink as daar skielik ’n insinking in die mark is, moet jy verkoop nie.

“Om op lang termyn uit te hou is die beste belegging wat jy kan maak,” sê Gusta. “As jy op lang termyn belê kan jy die onvermydelike skommelings in die mark oorleef.”

Bron: FNB