BAIE mense is bang ’n begroting bevestig hul vermoede: Jou uitgawes oorskry jou inkomste. Tog is ignoreer die verkeerde geweer, want gedurige oorbesteding kan jou diep in die skuld dompel.

Stap een

Moenie jou begroting uitwerk wanneer jy gespanne is of te veel koffie gedrink het nie. Skep ’n ontspanne atmosfeer, ruim genoeg tyd in, skink ’n glas wyn en luister na musiek. Maak seker jy het minstens ses maande se bankstate en rekeninge byderhand sodat jy ’n goeie idee kan kry van jou inkomste en uitgawes. Verkieslik moet jy ook ’n paar weke voor die tyd dagboek hou van jou daaglikse uitgawes. Betrek die hele gesin sodat jy almal se insette oor die begroting kan kry.

Stap twee

Bereken jou totale inkomste: jou salaris en ander inkomste soos uit huur of beleggings. Wat bly oor ná alle aftrekkings, byvoorbeeld werkloosheidsversekering, pensioen- en siekefonds?

Stap drie

Bereken nou jou uitgawes. Begin by vaste uitgawes soos lewenspolisse, versekering, ledegeld, huislening of -huur, winkelrekenings, water, elektrisiteit, kinderversorging, skoolgeld, bankkoste ens. Hoeveel bestee jy elke maand aan kos? Bepaal ook jou vaste daaglikse uitgawes, soos vir vervoer, sigarette en middagetes. Kyk na wisselende uitgawes wat jy nie noodwendig elke maand het of wat nie elke maand dieselfde is nie. Dit kan insluit veearts- en doktersrekenings, motorherstelwerk, geskenke, haarkappers en klere. Probeer bepaal of hierdie uitgawes ’n vaste persentasie is van jou maandelikse besteding.

Stap vier

As jou inkomste groter is as jou uitgawes, moet jy jou skuld begin delg. As jy nog nie ’n noodfonds het gelykstaande aan drie maande se salaris nie, begin daarvoor spaar.

Skenk daarna aandag aan spaargeld en beleggings. As jou uitgawes groter is as jou inkomste, kan jy maklik skuld maak. As jy nie jou inkomste kan vergroot nie, moet jy jou uitgawes verklein. Verdeel jou uitgawes in drie kategorieë: absoluut noodsaaklik, noodsaaklik en belangrik. Kyk eerstens na die laaste kategorie. Raak ontslae van betalings vir alles wat jy nie gebruik nie, soos die gim. Skaal dan luukshede af soos uiteet. Wees slim wanneer jy kruideniersware koop. Vermy impulsiewe kopies. As jy baie geld aan brandstof bestee, kan jy gerus ’n saamryklub of openbare vervoer oorweeg.

Hoe lyk die ideale begroting?

’n Algemene riglyn is dat ’n derde van jou inkomste gebruik moet word vir behuising (huisverband, huur, water en elektrisiteit), ’n vyfde vir vervoer (motorlening, brandstof of treinkaartjies), 15 persent vir skuld, ’n vyfde vir ander uitgawes (soos klere en kos) en ’n tiende vir spaargeld en beleggings. Spaar ook elke maand vir ’n droom soos ’n vakansie. Skryf jou uitgawes neer in ’n boekie wat jy by jou dra sodat jy seker is jy bly binne jou begroting. Hersien jou begroting minstens elke ses maande.

Helena Wasserman

Bron: Huisgenoot-argief