[caption id="attachment_117254" align="alignnone" width="600"]Jy moet versigtig met jou geld wees, meen kenners. Foto: Pixabay Jy moet versigtig met jou geld wees, meen kenners. Foto: Pixabay[/caption]

“Mense onderskat hoe nuttig ’n begroting is as jy beheer wil kry oor jou geldsake, jou uitgawes wil bestuur, wil spaar en skuld wil vermy,” sê Graham Craggs, woordvoerder vir Budget Insurance. Hulle gee die volgende raad vir die opstel van ’n begroting:

  • Stel ’n lys saam van jou vaste uitgawes en ander maandelikse aftrekkings en vergelyk dit met jou inkomste. As jou uitgawes meer is as jou inkomste, moet jy begin beplan hoe jy dit gaan verminder. As jy elke maand geld oor het, maar dink jy moet meer spaar, stel ’n begroting op en kry beheer oor jou uitgawes.
  • Fokus eers op die areas waar jy makliker kan besnoei. Onthou, selfs die kleinste aanpassings kan mettertyd ’n beduidende verskil maak.
  • Wanneer jy jou uitgawes besnoei het, kan jy die ekstra geld wat jy het begin gebruik om jou skuld vinniger af te betaal. Begin by die skuld met die hoogste rentekoers.
  • Jou begroting moet ’n mikpunt hê, byvoorbeeld om jou kredietkaartskuld af te betaal of geld vir ’n gesinsvakansie opsy te sit. ’n Doelwit maak dit prettiger en jy voel jy bereik iets wanneer jy jou doelwit behaal.
  • Wees realisties. As jy ’n te hoë doelwit stel en jy moet jou op alle vlakke ontneem om dit te bereik, is die kans skraal dat jy by jou begroting sal hou.
  • Wees eerlik oor jou skuldverpligtinge en uitgawes sodat jy ’n duidelike, realistiese prentjie van jou geldelike situasie het. Dra dit aan almal in die gesin oor sodat hulle die beperkings verstaan waarbinne hulle moet leef. Dit sal ook keer dat hulle gegrief voel wanneer hulle geld geweier word vir iets wat hulle wil doen of koop.
  • Doen jou beloftes gestand en bied belonings. As die doelwit was om genoeg geld te spaar om met vakansie te gaan, moet julle gaan vakansie hou wanneer julle die doelbedrag gespaar het.
  • Daar is verskeie apps waarmee jy maklik van jou inkomste en uitgawes kan tred hou. Van ons gunsteling gratis apps wat op Android en iOS te kry is, is Wallet, Wally, Level Money, Spendee en Mint. Gebruik een hiervan om ’n bygewerkte verslag oor jou finansiële gesondheid te hê.

Lees ook: Weet jy wat jou kredietstatus is?

Graham sê die volgende is maar ’n paar van die moontlike gebiede waar jy die oortollige vet van jou begroting kan begin sny:

  • Selfoon: As jy weet jy kan en moet minder aan jou selfoonrekening bestee, oorweeg dit om van diensverskaffer te verander of ’n pakket uit te neem wat meer geskik is vir jou gebruiksvereistes.
  • Vermaak: As jy gereeld saans uitgaan, halveer die aantal keer per week of stel ’n perk vir wat jy op vermaak mag uitgee. En as dié bedrag op is, bly by die huis.
  • Uiteet: As jy elke dag by die hoekkafee of kantoorkantien middagete koop, kan jy bespaar deur eerder kos in te pak vir werk.
  • Kruideniersware: Die gewoonte om saans op pad huis toe by ’n geriefswinkel in te draf vir ’n paar items vir aandete, kos jou meer as wanneer jy ’n behoorlike inkopielys saamstel en een of twee keer per maand verstandig by ’n supermark gaan inkopies doen.
  • Huislening: As die stygende rentekoerse jou maandelikse huispaaiement onhaalbaar gemaak het, kyk of jy jou maandelikse betaling kan verminder deur jou huis teen ’n gunstiger koers te herfinansier.
  • Kredietkaarte: Dit is gevaarlik om die kredietgerief op jou kredietkaart te misbruik, want dit kan jou kniediep in die skuld laat beland. Dit is ook op die ou end duurder, want die rentekoerse is gewoonlik hoog. Hou jou kredietkaart vir noodgevalle en betaal goedere en dienste met kontant of ’n debietkaart.
  • Versekering: Snuffel rond vir die beste versekeringspremie – jy is dalk verras oor hoeveel jy kan spaar.

Lees ook: Hoe om te verseker jou testament sê presies wat jy wil hê dit moet sê

“Onthou, selfs die kleinste aanpassings hier en daar kan jou heelwat help spaar. Die klein veranderinge en opofferings wat jy nou maak, sal eindelik die moeite werd wees,” sê Graham.