Die meeste huishoudings het meer as een vorm van skuld of gereelde uitgawes.

"Daar's byvoorbeeld 'n verband of huur om te betaal, motorlenings, winkel- en kredietkaarte, soms ook 'n persoonlike lening. Dit alles kan bydra tot voortdurende onsekerheid vir die gesin," sê Angelique Ruzicka, redakteur van die persoonlikefinansies-webdiens Justmoney.

"Maar pa's kan byvoorbeeld ook heelwat doen om huishoudelike uitgawes te verminder om groter finansiële sekuriteit vir hul gesin te help bewerkstellig.

"Openlikheid is van sleutelbelang wat huishoudelike geldsake betref sodat almal weet waar die gesin staan. Pa's kan dit gerus oorweeg om dié langnaweek 'n gesinsgeselsie oor spaar êrens in te pas," stel sy voor.

Hier is intussen agt wenke wat hulle in gedagte kan hou vir hul gesin se geldelike gemoedsrus:

  1. Stel 'n testament op: Sal jou geliefdes weet waarheen as jy dalk skielik nie meer daar is nie? Het jy 'n geldplan opgestel vir jou lewensmaat en al jou spruite? "'n Omvattende testament sal spesifiseer wie almal finansieel van jou afhanklik is en help verseker dat ná jou heengaan na hulle omgesien word,"sê Angelique. "Maak seker jou geliefdes weet waar om 'n afskrif daarvan te kry as die onverwagte wel gebeur." Werk ook jou testament by namate jul omstandighede verander.
  2. Kry die regte dekking: Is jou gesin voldoende verseker ingeval iets skeefloop, byvoorbeeld as jy eensklaps wegval of weens 'n ongeluk nie langer kan werk nie? "Praat met 'n finansiële adviseur om te bepaal of julle genoeg mediese, lewens-, ongeskiktheid- en huisversekering het vir wanneer jou gesin dit dalk nodig kry."
  3. Streef daarna om skuldvry te leef: "Stel 'n lys saam van jou kredietverskaffers en werk uit hoe lank dit sal duur om jou skuld aan hulle te vereffen. Deur te kyk waar jy oral kan spaar, byvoorbeeld deur op luukses te besuinig en minder uit te gaan, kan jy heelwat geld loswikkel om jou skuld vinniger af te betaal. Kortom, hoe gouer jy aandag aan jou skuld gee, hoe beter jou gesin se finansiële vooruitsigte."
  4. Kyk weer deeglik na finansiële administrasiefooie: Wat jou spaargeld en lopende en kredietkaartrekenings betref, kan jy ook heelwat aan diensgeld bespaar as jy jou huiswerk gaan doen en rondsnuffel vir beter aanbiedings of weer met jou bestaande diensverskaffers onderhandel. "Dis heelwat makliker om deesdae oor te skakel na 'n ander bank," sê Angelique.
  5. Stel 'n behoorlike huishoudelike begroting op: Dis die beste manier om 'n kitsoorsig van die gesin se finansies te kry - hoeveel waaraan bestee word, waar jul geld oral heen 'verdwyn'. "Die talle begrotingsrekenaars wat nou aanlyn beskikbaar is, kan jou baie hiermee help."
  6. Spaar vir die toekoms: As jy nie baie pligsgetrou spaar nie of sukkel met spaardissipline, kan jy byvoorbeeld 'n aftrekorder vir 'n spaar- en effektetrustrekening oorweeg. Enige ekstra geld wat jy getrou wegsit, kan eindelik heelwat help, al is dit nie groot bedrae nie.
  7. Wees eerlik en openlik oor jul geldsituasie: "Baie huwelike beland in die skeihof, en geldprobleme word dikwels as rede vir verbrokkelde verhoudings voorgehou,'' sê Angelique. Al is jy dus ook die enigste of vernaamste broodwinner, "is dit noodsaaklik dat jy finansiële inligting met jou maat deel, en selfs ook die kinders, om te verseker almal span saam om jul geldelike doelwitte te probeer bereik''. As jou kinders 'n benul het van hoe die gesin se balansstaat daar uitsien, sal hulle makliker verstaan waarom jy dalk nee sê vir sekere dinge.
  8. Wees 'n voorbeeld vir jou gesin: "Haal jy dalk te maklik die kredietkaarte uit? Onthou, jou kinders sal jou geldgedrag waarskynlik naboots. Stel 'n goeie voorbeeld wanneer julle saam gaan inkopies doen. Probeer byvoorbeeld by jul inkopielys hou en gebruik jou debiet- pleks van jou kredietkaart,'' stel Angelique voor.