Hoe kan jy jou teen e-pos-bedrieërs beskerm?

Onthou die goue reël: As dit te goed klink om waar te wees, is dit gewoonlik nie waar nie.

Aanloklike aanbiedinge, onverwagte erfporsies, weergalose beleggingskanse en bedrieglike betaalwebwerwe is maar net ’n paar van die metodes wat daarop gemik is om jou uit jou swaarverdiende geld te verkul.

Selfs al dink jy geen bedrieër gaan jou op dié manier bykom nie, raak die meesterbreine ook slimmer – en op ’n dag kan hulle jou dalk net vir ’n oomblik flous.

Intel Security, ’n maatskappy wat onder meer internetbedrog teiken, het 19 000 mense van 144 lande betrek by ’n studie om te bepaal hoe akkuraat hulle bedrieglike e-posse (phishing) van die ware Jakob kan onderskei. Net 3 persent kon al die vals e-posse identifiseer . . .

1. Maak seker jou sagteware wat jou teen internetvirusse beskerm, asook jou internet-soekenjin (Firefox, Safari, Chrome, om net ’n paar te noem) is op datum met die nuutste opgraderings.

2. Moenie net lukraak op die skakel in ’n e-pos aan jou gerig klik nie. Laat jou muis op die skakel luier en kyk dan watter skakel opkom. Is dit dieselfde inligting as wat die skakel voorgee om te verteenwoordig?

3. Wees bedag op spelfoute, verkeerde internetskakels en e-posse van onbekende mense.

4. Moenie op die skakel klik wat in die e-pos verskaf word nie. As die e-pos van ’n maatskappy afkomstig is, gaan liefs na jou internetsoekenjin en gaan vandaar regstreeks na die maatskappy se webwerf.

5. Jy sal waarskynlik skrik as jy ’n e-pos van jou bank ontvang wat sê jou besonderhede moet bygewerk word om te verhoed dat jou rekening gesluit word. Dit is gewis ’n slenter – geen bank sal dit ooit via e-pos van jou versoek nie.

6. Veral tydens belastingtyd baljaar die bedrieërs behoorlik. Wees bedag op e-posse van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens wat vra dat jy jou bankbesonderhede verifieer om jou (onverwagte) belastingterugbetaling te ontvang. Jou besonderhede is reeds by die diens registreer wat regstreeks toegang tot jou bankrekening het om sulke inbetalings te maak.

7. Die gesegde “haastige hond verbrand sy mond” kan van toepassing wees op e-posse wat jou aanmoedig om binne die volgende paar minute te reageer sodat jy ’n groot prys, die Lotto of dalk ’n droomvakansie kan wen. Dis juis hierdie droompryse wat ingespan word om jou onverhoeds te betrap. Hoe dringender jou reaksie verlang word op ’n e-pos, hoe groter is die kans dat iemand iewers hande sit en vryf… reg om jou aanlyn te beroof.

8. Het jy al ’n e-pos gekry waarin jy gevra word om eers ’n deposito te betaal voor jy iets kan wen? Dit sal die laaste keer wees dat jy daardie deposito sien! Die persoon wat die e-pos gestuur het en jou geld ontvang het, is die enigste “wenner”.

9. As jy ’n wonderlike aanbod van vooraf gewaarborgde lenings kry, kan jy maar weet: Dit gaan jou nie uit jou geldnood red nie, dit gaan jou net aansienlik armer laat.

10. Jy het ’n sagte hart en as daar ’n e-pos opduik oor hulpverleniging aan rampgebiede is jy gereed om ’n bydrae te maak. Bedrieërs maak staat daarop. Die kans dat ’n enkele sent by die slagoffers uitkom is skraler as ’n maraton op die maan. Kontak die regte liefdadigheidsorganisasie deur hulle te bel of op hul eie webwerf die regte bankbesonderhede te kry.

11. “Oorbetalings” wat teruggeëis word, is aan die orde van die dag. Dit gebeur byvoorbeeld wanneer jy ’n item aanlyn verkoop. Die dankbare “koper” bied meer aan sodat jy die koste van versending kan dra. Maar wat die koper uit dié transaksie kry, is veel meer: vals inbetalings wat jou laat glo jy moet die persoon seker maar terugbetaal vir daardie oorbetaalglips, geld verdwyn uit jou rekening en erger nog: jou identiteit word gesteel.

12. Het jy al daaraan gedink om jou rekenaar in ’n “geldmaakmasjien” te omskep, of soos die vals advertensies lui: “Use your computer to let the money roll in.” Wel, dink mooi. Wanneer jy vir die pakket registreer, verskaf jy verskeie belangrike brokkies inligting oor jouself: jou identiteitsnommer en in alle waarskynlikheid jou PayPal-besonderhede. Die bedrieërs is die mense wat die laaste lag.

Bykomende bronne: finance.yahoo.com, lifewire.com, newsroom.mcafee.com