Jou eerste salaris van 2015 laat einde Januarie jou bankbalans swel. Dan is die tyd om slim te werk met jou geld sodat jy jou Nuwejaarsvoorneme om “jou geldsake beter te bestuur” kan volhou.

Of jy nou spaar vir ’n droomvakansie en of jy net eindelik vanjaar uit die skuld wil kom, sal dié 11 wenke jou beslis jou doelwitte in 2014 help bereik.

1. Begin met een klein verandering

“Mense vermy gewoonlik verandering; dus lê die geheim daarin om een dingetjie te soek wat nie ’n reuse uitwerking op jou alledaagse lewe het nie,” sê Louis van der Merwe, die direkteur en gesertifiseerde finansiële beplanner by Wealthup in Durbanville.

Gee iets prys wat nie so ’n groot uitwerking op jou lewe het nie; dalk het jy ’n maandelikse kontrak wat jy skaars gebruik. Vat dan dié ekstra geld en delg jou skuld.

2. Betaal eers jou kleinste skuld af

Begin spaar deur jou skuld te delg sodat jy so min moontlik rente betaal. “Die sielkundige sege ná jy jou eerste doelwit bereik het, sal jou help deurdruk met jou geldplan,” sê Louis. Betaal eers jou kleinste skuld af; dit sal jou motiveer om die ander doelwitte op jou lys te bereik.

3. Wees waaksaam oor jou geld

Keer dat onnodige uitgawes jou onverhoeds betrap, waarsku Barry O’Mahoney, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner by Veritas Wealth in Nuweland en die Finansiële Beplanningsinstituut van Suid-Afrika se finansiële beplanner van die jaar in 2013.

“Begin verantwoordelikheid aanvaar vir jou geldsake. Moenie nog skuld aangaan net omdat jy ’n nuwe kredietkaart of winkelrekening gekry het nie; dit sal jou net dieper in die skuld dompel,” sê Barry.

4. Maak seker jy is ingelig oor jou geldsake

Die eerste stap wat jy moet doen sodat jy kan begin spaar, is om ingelig te wees oor wat jy alles bestee. “Skryf ’n maand lank elke sent neer wat jy uitgee,” stel Barry voor, “dan kan jy begin kyk na waar jy kan sny.”

Probeer ’n aanlyn begrotingshulpmiddel om jou aan die gang te kry.

5. Vermy kitsbevrediging

Baie mense trap in die strik van kitsbevrediging wanneer hulle byvoorbeeld ’n nuwe kledingstuk of selfs ’n motor koop, verduidelik Barry.

Ons almal moet sekere “reëls” vir onsself opstel wanneer dit by aankope kom. Hier is ’n paar voorstelle:

  • Vra jou af: Hoe voel dit om in die skuld te wees?
  • Hoe gaan dit voel as ek nie die terugbetalings op byvoorbeeld die nuwe motor kan bybring nie?
  • Maak ’n sewe-dag-reël: Wanneer jy ’n item wil koop, dink eers sewe dae daaroor na. As jy dit dan nog altyd wil hê, gaan koop dit. Nege uit die tien keer sal jy nie na die winkel terugkeer nie, sê Barry.

6. Spaar vir luukse items

As jy iets wil koop wat jy nie regtig nodig het nie, behoort jy dit net te koop as jy met kontant daarvoor kan betaal, sê Lezanne Human, die hoof uitvoerende beampte van FNB Savings and Investments.

“Dis ’n eenvoudige filosofie, maar dit werk goed omdat dit jou leer wegbly van duur en onnodige skuld.” Barry stem saam. “As jy iets op ’n afbetaalrekening moet koop, kan jy dit eintlik nie bekostig nie.”

Spaar liewer tot jy genoeg het sodat jy dit kontant kan koop, raai Lezanne aan.

7. Moenie skuld maak om jou skuld af te betaal nie

Dit raak gevaarlik wanneer jy nuwe skuld aangaan om ou skuld af te betaal, waarsku Barry. “Dit voorspel niks goeds nie. Jy sal vasval in ’n spiraal skuld waaruit jy nie sal kan ontsnap nie.”

Bring liewer klein veranderings aan en begin jou kleinste skuld eerste afbetaal, soos in wenk #1.

8. Lojaliteitsprogramme

’n Maklike manier om jou rande te rek is om te weet wat jou lojaliteitsprogramme alles aanbied, sê Jolandé Duvenhage, die hoof uitvoerende beampte van eBucks. “Kies programme waarmee jy op alledaagse aankope soos kos en brandstof kan bespaar.”

9. Selfoonbeursies

Gebruik jou selfoon om geld aan vriende en familie te stuur, sê Yolande van Wyk, die hoof uitvoerende beampte van FNB eWallet. “Dit is dadelik beskikbaar, veilig en is die goedkoopste manier van geld oorplaas.”

10. Deel jou finansiële doelwitte met jou familie

Jou gesin gaan dalk nie verstaan hoekom jy jou uitgawes besnoei nie of waarom hulle nie nuwe klere of speelgoed kan kry nie. Dis daarom goed dat jy jou finansiële doelwitte met hulle bespreek, raai Louis aan. “Jou kinders kry ook so ’n gulde geleentheid om self ’n begroting op te stel sodat hulle kan leer hoe hulle hul sakgeld beter kan bestee.”

11. Soek ’n finansiële afrigter

Nes ’n fiksheidsinstrukteur jou verantwoordbaar hou vir jou gesondheid, sal ’n finansiële afrigter jou help om jou geldsake goed te bestuur. “Mense met ’n betroubare finansiële raadgewer spaar gewoonlik meer en is beter toegerus om te herstel ná ’n finansiële terugslag,” sê Louis.