Voor jy jou oë uitvee het jy ’n mes en vurk van vlekvrye staal en ’n keramiekbord in jou lessenaar se laai.

Uit my eie laai kan ek getuig van ’n pakkie pleisters, handeroom, ’n sambreel en ’n deursigtige houertjie vol grimering wat op-maar-nog-nie-op-genoeg-vir-die-asblik is nie. My dae as joernalis is soms net te onvoorspelbaar en ek is gewoon te ydel om by die kantoor sonder grimering te wees

Daardie einste kantoor raak vinnig ’n mens se tweede huis en jou kollegas omtrent familie. (Eintlik presies soos familie, want tegnies kan jy hulle ook nie kies nie en in ’n nuuskantoor bring julle in elk geval dikwels Kersfees en Paasfees en verjaardae saam deur.)

Die gevaar is dat jy net nie te tuis moet raak nie, want werk bly werk en jy wil seker die een of ander tyd ’n baas ook word. Dus moet jy tussen die mense wat al amper jou familie vervang het, professioneel bly.

Ek kan sien die meeste van my kollegas streef na professionaliteit. Ander steur hulle lankal nie meer aan sulke vereistes nie. Wat jy sien is wat jy kry – persoonlike lewensdrama, deurmekaar lessenaar, hare en al.

Volgens Bussiness Insider kan sekere gewoontes jou by die werk onprofessioneel laat lyk. Sommige sekerlik meer as ander, sou ek sê:

1. Laatkom

Om laat te wees by die werk en om 10 minute laat te wees vir elke vergadering is nie goed genoeg nie. Dis waarom daar ’n herinneringsfunksie op jou selfoon se kalender is. As jy wel een oggend laat is vir werk, help dit om seker te maak jou lynbestuurder sit in dieselfde verkeersknoop as jy – ek praat uit ondervinding. Maak dus seker jy en jou lynbestuurder woon in dieselfde straat.

2. Morsjorse

Jou werkomgewing – lessenaarhokkie of kantoor – weerspieël blykbaar wie en wat jy is. Sommige kollegas saam met wie ek al gewerk het, het nooit omgegee om onder verlede Mei se koerante en tydskrifte na ’n pen te soek nie. Sommige mense se kreatiwiteit word gestimuleer as hulle nie meer weet in watter notaboekie hulle laas gewerk het nie. Dan kry jy natuurlik ’n ander kollega waar ’n vuil koffiebeker nie eens tyd sal hê om behoorlik af te koel voor dit uitgespoel, afgedroog en terug in die kas sal wees nie.

3. Fokus tydens vergaderings

Hulle sê dit is ongeskik om op jou selfoon besig te wees terwyl jy in ’n vergadering is. Maar daar is verskonings om vervelige vergaderings te fnuik.

  1. Jy is besig om nog storie-idees vir artikels te soek. Eintlik is jy ’n sterjoernalis.
  2. Jy probeer uitvind waar jou kollega aan haar of sy storie-idee gekom het. #FakeNews.
  3. Jy kyk na foto’s oor jou kollega se storie-idee, want dit klink so belaglik of die akteur is so aantreklik, jy moet dit met jou eie oë sien.

4. Moenie grimering by jou lessenaar aansit nie

’n Mens moet eintlik jou lipstiffie in die badkamer gaan aansit, sê hulle. Ek het ook al gehoor jy is nie veronderstel om jou hare in die kantoor te borsel nie. Dit is volgens die kenners veel beter as ek my hele deursigtige grimeerkassie en hareborsel badkamer toe karwei as om dit vinnig (onder twee minute) by my lessenaar te doen.

5. As jy nie netjies lyk nie

Ek glo jou voorkoms het ’n baie belangrike aandeel in jou loopbaansukses. Ek was nog ’n eerstejaar-joernalis toe die redakteur my kopband vol blinkers met ’n kroon verwar. Ek het dadelik besef die dae van haarbande en groot, byderwetse strikke in my hare is verby.

6. Moenie vir handetekeninge vra nie en moet dit nie eers oorweeg om iets te verkoop nie

(Nou is my idee om koek te verkoop sodat ek geld kan insamel vir my troue ook daarmee heen.) Jou skoolkind se rugbyraaie, borglyste en ja, soos ek sê, om koekies of fudge van agter jou lessenaar te verkoop, word volgens die beroepspolisie verbied. Aan die een kant is ek bly. Veral oor die rugbyraaie en beesloop-kaartjies, want dit is darem moeilik om vir ’n kollega nee te sê as hulle ’n skenking vra. Die fudge is ’n verlies. Ek was gek daaroor om op skool tussen klasse by onderwysers fudge aan te skaf. Ek sal steeds daarvan hou.

7. As jy werkgeleenthede vermy

As die kollegas, oftewel “aangewerkte” familie, wil kuier, moet jy nie dink jy gaan die uitnodiging elke keer van die hand kan wys nie. Vir goeie verhoudinge en om op die hoogte te bly van die jongste ontwikkelinge en kantoor-politiek, moet jy saamgaan en ’n glasie klink. Selfs al is dit net ’n glasie vonkelwater.

8. Komplimente is ’n groot nee

Dit is glo taboe om opmerkings oor kollegas se voorkoms te maak. Selfs komplimente kry die rooi lig. Wanneer jou kollega die nuwe rok dra wat sy nou die dag aanlyn gekoop en opgewonde vir jou gewys het toe ’n bode die pakkie kom aflewer, moet jy net staar. Kyk een keer en gaan aan met jou werk.

9. Jou persoonlike lewe en probleme moet persoonlik bly

Die werkplek is nie die plek om af te pak oor jou kêrel wat jou gelos het, jou kind se swak rapport, of jou kat se oulike gewoontes nie. Maak doodseker jou kêrel stuur nie vir jou blomme kantoor toe nie, want hoe op aarde gaan jy dit verduidelik?

10. Vloekwoorde

Ek dink hierdie een diskwalifiseer amptelik almal wat ek ken. Almal is amptelik onprofessioneel.