DIT was 'n lang jaar, jy't hard gewerk en wil jouself darem 'n bietjie bederf.

Só sal baie mense weer redeneer wanneer bonustyd aanbreek.

Maar in dié ekonomiese klimaat moet hul benadering dalk eerder wees: "Ja, ek verdien dit, maar wat kan ek bekostig...?''

Voordat verbruikers weer begin fantaseer waarop hulle daardie, sê maar, R10 000 ekstra kan blaas, moet hulle straks 'n kopskuif probeer maak.  Waarom nie vanjaar jou bonusrande regtig konstruktief aanwend nie, pleks van byvoorbeeld as 'n deposito op iets blinks wat jou net nog dieper in die skuld kan dompel?

Wat is van die beste dinge wat 'n mens byvoorbeeld met 'n meevaller van R10 000 kan doen? Of R20 000 as julle twee broodwinners in die huis is, of R5 000 waar verbruikers skraler 13de tjeks verwag?

ONS is maar net mens en geneig om onsself onmiddellik te wil beloon, sê Anil Jugmohan, beleggingsontleder van Nedgroup Investments. Hoeveel van ons sou byvoorbeeld bereid wees om vanjaar ons bonus oor te slaan sodat ons aanstaande jaar 'n vetter een kan ontvang?

"Dis net menslik om te sê, 'Ek het hierdie verdien', en dan wild te bestee...''

Maar mense kan dan die groot fout begaan om daardie bonus in 'n kopie te stoot wat hulle eintlik nie kan bekostig nie. "Die aardigheid en opwinding daarvan om byvoorbeeld 'n nuwe motor te hê, gaan bra gou verflou, maar jy gaan dan nog vyf jaar met jou maandelikse paaiemente moet volhou.''

Ja, jy kan gerus jou bonus of 'n deel daarvan bestee om jouself te beloon, beaam Anil, "maar jy kan dit op 'n slim manier doen. Beskou dit eerder as as 'n meevaller wat ons met die oog op die toekoms kan aanwend''.

Nico Swart, Unisa-lektor in persoonlike finansiële bestuur en skrywer van verskeie geldvaardighede-boeke, sê: "Vra jouself af waar dit jou en jou gesin se doelwitte die beste kan dien en bestee dit dan daaraan.

"Kyk eers na jou skuld... En moenie dat jou bonus jou in die versoeking stel om 'n deposito te betaal vir iets wat jy begeer, pleks van nodig het nie, en jou finansiële posisie so versleg nie.''

10 dinge wat jy met jou bonus kan doen

1. Delg van jou duurste skuld: As jy heelwat ongesekureerde skuld met hoë rentes het, moet jy oorweeg om eerstens minstens 'n groot gedeelte van jou bonus hiervoor in te span, sê Dave Mohr, hoofbeleggingstrateeg van Old Mutual Wealth. "Baie mense het die afgelope ruk in te veel sulke skuld vasgeval.'' Dit wissel van kredietkaarte tot klererekeninge. "Jy behoort verkieslik nie eens klere op skuld te koop nie.''

"Gee eers voorkeur aan agterstallige skuld [insluitend diensterekeninge], daarna winkelrekeninge, dan kredietkaarte, dan motorskuld...'' stel Anil voor.

As jy te veel het, kan jy gerus ook van jou kredietrekeninge sluit nadat jy hulle klaar betaal het.

2. Vergroot jou eienaarskap in jou huis: Huisverbandskuld kan tot laaste wag omdat dit nog soveel bekostigbaarder as ongesekureerde skuld is, sê Nico. Maar as laasgenoemde onder beheer is, kan jy jou op die lang duur baie rente bespaar deur beduidende eenmalige bedrae soos bonusse in jou verband te steek.

"So verhoog jy jou aandeel in jou huis se waarde en verklein jy die bank s'n en verstewig jy jou finansiële posisie,'' sê Dave. Om jou huis self te kan besit, moet altyd een van jou vernaamste mikpunte wees. "Veral in dié onsekere tye is dit goed om jou verband so klein moontlik te kry. As dinge begin skeefloop by jou werk of eie besigheid, het jy dan minstens nie groot skuld op jou woonhuis nie.''

Dis sinvoller om jou bonus in jou huisverband te sit as byvoorbeeld 'n vastedepositorekening, wat buiten 'n relatiewe lae renteopbrengs nie belastingvoordele bied nie, voeg Anil by.

"Hoe gouer jy jou huislening afbetaal, hoe minder rente betaal jy uiteindelik.''

[Jy kan byvoorbeeld meer as R220 000 aan rente spaar en jou huisverband amper vyf jaar vroeër klaar betaal as jy jaarliks 'n eenmalige bedrag van R10 000 ekstra betaal op 'n lening van R700 000 met 'n leningstermyn van 20 jaar*].

Veral terwyl rentekoerse nog laag is, moet jy jou huisverband-balans so vinnig moontlik verklein, sê Anil. En huisverbandgeriewe soos Access Bond laat jou toe om  weer, indien nodig, ekstra geld wat jy inbetaal het te onttrek. Dis dan 'n veel goedkoper bron om onvoorsiene uitgawes mee te dek as byvoorbeeld persoonlike lenings of kredietkaarte.

3. Gesinsbeplanning: Nico reken jong pare kan gerus bonusgeld belê vir latere baba-uitgawes as hulle engsins sulke planne het. "Dink altyd aan die lang termyn...''

4. Speel klaar met skoolgeld: Dit maak sin om jou kind se jaarlikse skoolfooie of minstens 'n groot deel daarvan vooruit te betaal, veral aangesien sommige skole afslag toestaan, reken Anil. Dit kan 5% of meer wees.

[Jy kan dan byvoorbeeld die geld wat jy só spaar in jou huisverband sit en 'n tweede keer baat vind deurdat jy ook 'n bietjie aan huisverband-rente spaar.]

5. Belê in jou kind se toekoms: Dis 'n voortreflike idee om jou bonusgeld vir jou spruite se opvoeding te spaar, benadruk Anil. "Só bied jy hulle 'n voorsprong wanneer hulle begin werk.

"[Beter kwalifikasies] kan hulle 'n beter werk help kry en hulle begin dan ook nie op die agtervoet deurdat hulle baie studieskuld moet terugbetaal nie.''

Dis vir jou boonop 'n belegging in gemoedsrus, in ag genome hoeveel Suid-Afrikaners vandag nie behoorlik aftreevoorsiening kan maak nie omdat hulle nog afhanklike volwasse kinders onderhou.

6. Begin 'n noodfonds: Jy weet nooit watter onvoorsiene uitgawes, byvoorbeeld herstelwerk aan jou motor of huis, jou aanstaande jaar tref nie, sê Anil. Jy behoort ook so 'n buffer te hê ingeval jy skielik jou inkomste kwyt is.

So R10 000 of R5 000 is al 'n goeie begin vir, of aanvulling tot, 'n gebeurlikheidsfonds. [3-6 maande se inkomste is 'n algemene maatstaf.]

7. Maak ekstra voorsiening vir aftrede: "As jy reeds 'n aftree-annuïteit of spaarplan het, kan jy jou bonus daartoe bydra,'' sê Anil.

"Vir langtermyn-finansiële beplanning sal dit nou waarskynlik die beste wees om in gebalanseerde produkte te belê wat jou blootstelling gee aan 'n kombinasie van plaaslike en internasionale staatseffekte, kontant en eiendom,'' meen Dave. Kies dan ook 'n bewese batebestuurder wat beleggings aktief bestuur.

"Ek sou versigtig wees om net alles in aandele te belê, want die mark het klaar geweldig gestyg.''

Nico meen vir werklike beleggingsgroei op die lang duur "kan jy daardie R10 000 of R20 000 in effektetrusts belê. Of as jy liewer daarmee 'n bestaande annuïteit wil aanvul, kan jy die annuïteit aanpas na groter blootstelling aan effektetrusts''.

8. Vergroot jou mediese dekking: Oorweeg dit om jou bonus vir aanvullende mediese dekking opsy te sit, stel Anil voor. Jy kan ook hospitaalplanpremies vir 'n jaar vooruit betaal.

9. Verhoog jou woonplek se waarde: Klein verbeterings kan jou plesier verskaf én jou eiendom se waarde verhoog, byvoorbeeld nuwe veiligheidsdeure of 'n mooier motorhuisdeur... of kikker die badkamer of kombuis op met nuwe teëls, krane en verf.

Of beloon jouself met die binnenshuise braai wat jy lankal wou hê, stel Nico voor.

Of as jy jou blyplek huur, belê in laer toekomstige onderhoud- en brandstof-onkoste en jou gesin se veiligheid met 'n nuwe stel motorbande.

10. Belê in jouself: Omskep 'n onderbenutte talent in 'n ekstra inkomste. As jy knap is met huisverbeterings, koop 'n paar stukke nuwe gereedskap, adverteer jou dienste en kyk wat gebeur. Of as jy kunstig is, belê jou bonus in kameratoerusting vir byvoorbeeld troufotografie, of in rekenaartoerusting vir webontwerp.

* Volgens Absa-aanlyn-huisleningrekenaars.

Nog bonus-opsies

  • Volg 'n kursus om nuwe tegniese vaardighede te leer wat jou kan help voorbly in die moderne arbeidsmark.
  • Ouer werknemers kan opleiding vir 'n tweede loopbaan ná aftrede ondergaan.
  • Vir R10 000 kan julle twee skaflike fietse en stellig ook fietsryhelms kry sodat julle voortaan werk toe kan ry. Beskou dit as goedkoop gesondheid- en lewensversekering... en spaar duisende aan brandstof!
  • Kry 'n hout-, antrasiet- of gasvuurkaggel en spaar elektrisiteit aanstaande winter... én verhoog jou huis se waarde. Intreevlakmodelle kan minder as R5 000 kos.
  • Groen energie tuis: selfs vir R5 000 kan jy klaar 'n son-waterverhitter of sonkrag-beligting installeer waarmee jy nog jare vorentoe op elektrisiteituitgawes kan bespaar.
  • Leer 'n nuwe taal; dit kan jou loopbaan en menseverhoudinge bevorder.
  • En wat van 'n paar sessies by 'n goeie verhoudingsberader? 'n Nuwe slim-TV, byvoorbeeld, sal in elk geval nie pret wees as jy midde-in 'n ysige stilswye daarna moet staar nie.
  • Verhoog jou persoonlike voedselsekerheid deur hoenders aan te skaf en boumateriaal vir 'n hok... as jou woonomgewing dit toelaat.
  • Hou jou bonus eenkant vir die bykomende uitgawes waarmee baie gesinne in Januarie worstel.
  • Gebruik dit om nou reeds vir groot uitgawes te begroot, soos die diens van 'n motor of huishoudelike toestelle wat dalk vervang moet word.

Richard van Rensburg