Dryf al die rommel in jou motorhuis jou teen die mure uit? Hoekom hou jy nie jou lyf selfdoenghoeroe en omskep dit in iets besonders nie?

Ál meer kreatiewe mense maak hul eie unieke produkte eerder as om dit te koop. Dié neiging is bekend as die “makerbeweging” en is gewild onder tegnologiebleeksiele, kunstenaars en stokperdjiegeesdriftiges.

Dis immers so gewild dat duisende mense oorsee jaarliks na Mini Maker Faire-uitstallings stroom om te sien watter interessanthede dié mini-McGyvers optower.

Dié uitstallings, wat as die grootste “uithaal-en-wys”-skou op aarde beskryf word, het in 2006 in San Francisco ontstaan. Nou maak dit dié naweek vir ’n tweede keer ’n draai in Kaapstad.

Die uitstalling, wat van 26 tot 28 Augustus by die Cape Town Science Centre in Observatory plaasvind, beloof om selfs beter as verlede jaar se geleentheid te wees.

Meer as 60 makers gaan hul handewerk tentoonstel. Dit sluit in robotte, tuisgemaakte hommeltuie, kuns, elektriese voertuie en skeppings wat met 3D-drukwerk opgetower is. Daar is selfs werksessies om te wys hoe jy met sement wat vinnig droog word items vir jou huis kan maak.

“Die hommeltuie is altyd ’n hoogtepunt,” sê Alayne Reesberg, programdirekteur van dié uitstalling. Maker Faire-aanhangers sal dié hommeltuie self kan vlieg. “Dit gaan eintlik oor ou ambagte en handvaardighede. Dis ’n bleeksielparadys.” Vir nog inligting oor kaartjies en pryse, besoek hul Facebook-blad.

WEN

Vyftig lesers kan elk gesinskaartjies (vir ’n volwassene en drie kinders van enige ouderdom) wen. Besoek quicket.co.za, kies die datum wanneer jy die Mini Maker Faire wil bywoon, kies een gesinspakket, klik op die “Use Promotion Code”-knoppie en tik in “GOV16”.

Die eerste 50 lesers wat dié koepon gebruik, wen!

Bepalings en voorwaardes: Werknemers van Media24 en die prysborg en hul familie mag nie deelneem nie. Die prysborg is verantwoordelik vir die verskaffing van die pryse aan die wenners. Die prys sluit nie vervoer en verblyf in nie.