Cirque Éloize se Suid-Afrikaanse debuut van die vertoning iD was in 2014 in die Teatro by Montecasino en die nuus het vinnig versprei dat dit die moet-sien-vertoning van die jaar was. Nou is dié ongewone vertoning terug in Suid-Afrika by die Kunstekaapteater in Kaapstad en Montecasino in Johannesburg.

CEiD-420x297px

Die plaaslike promotor Showtime Management bring iD nou terug na Suid-Afrika. Dit behels ’n mengsel van sirkustoertjies en stedelike dansroetines (B-boying en B-girling, hip-hop en breakdance) en speel af in die hartjie van die stad, waar die tema van mense se identiteit en anonimiteit aangespreek word.

Onder die regie van Jeannot Painchaud is Cirque Éloize se iD in die afgelope sewe jaar voor meer as 1 miljoen toeskouers opgevoer in meer as 1 000 vertonings in omtrent 100 stede in 23 lande.

CirqueEloize_iD_Dance

iD het ’n rolverdeling van 15 akrobate en kunstenaars, en verweef innoverende multimedia-elemente met ’n rock- en elektronika-geïnspireerde klankbaan deur die komponiste Jean-Phi Goncalves en Alex McMahon. Die vertoning kombineer akrobatiese toertjies met die energie van hip-hop en straatdans – ’n vars en hoë-oktaan-benadering tot moderne sirkus.

Painchaud sê: “Dit is met groot lekkerkry dat ons hierdie kleurvolle, passievolle en energieke stadsverhaal vir die eerste keer Kaapstad toe bring. Ons is ook baie bly om terug te gaan na Johannesburg, waar ons in 2014 keer op keer in ’n stampvol teater opgetree het.”

Waar en wanneer

Kaapstad: Die eerste vertoning is Woensdag 16 November 2016 in die Kunstekaapteater. Die speelvak is beperk tot 15 vertonings. Johannesburg: Die eerste vertoning in die Teatro by Montecasino is Woensdag 30 November 2016. Die speelvak duur tot 24 Desember 2016. Daar sal gedurende die feestyd spesiale middeweek- en middagvertonings wees. Kaartjies is by Computicket beskikbaar. Bespreek nou by 0861-915-8000, gaan na www.computicket.com of besoek jou naaste Computicket-toonbank. Vir nog inligting, gaan na www.showtime.co.za. Bly op hoogte van die jongste nuus in die sosiale media – op Facebook, Twitter en YouTube.

WEN!

Daar is 10 dubbelkaartjies op die spel – vyf vir elke teater. Die Kaapstadse kaartjies is vir die 20:00-vertoning op Woensdag, 16 November in die Kunstekaap. Die Johannesburgse kaartjies is vir die 20:00-vertoning op Woensdag 30 November in die Teatro by Montecasino.

Hoe om in te skryf

Beantwoord die kompetisievraag en SMS jou antwoord en jou gekose stad, sowel as jou naam en van na 35407* teen middernag op 3 November 2016.

* Elke SMS kos R1.50.

Vraag: In hoeveel lande is Cirque Éloize se iD al opgevoer?

Kompetisiereëls, bepalings en voorwaardes: Die kompetisie is oop van 17 Oktober 2016 tot 3 November 2016. Elke SMS kos R1,50. Gratis SMS’e kan nie gebruik word om in te skryf nie. Jy moet die eienaar wees van die selfoon of die eienaar se toestemming hê om die selfoon te gebruik. Jy mag soveel keer inskryf as wat jy wil. Personeel van Media24 en die borg, sowel as hul families, mag nie inskryf nie. Jy moet vraag korrek antwoord om in aanmerking te kom vir die prys. Wenners sal gekies word deur ’n lukrake trekking. Wenners sal telefonies in kennis gestel word. Ons sal drie keer binne kantoorure probeer om ’n wenner te kontak. As hy of sy nie bereik kan word met een van die drie oproepe nie, sal ’n nuwe wenner getrek word. Media24 en die borg van die prys aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade wat mag spruit uit deelname aan die kompetisie nie. As jy inskryf vir die kompetisie, aanvaar ons dat jy Media24 toestemming gee om jou soms te kontak met promosies en ander bemarking. Kaartjies is slegs geldig vir die vertoning soos aangedui, onderhewig aan beskikbaarheid en kan nie opgradeer, verruil word vir kontant of vir ander vertonings gebruik word nie. Die prys bestaan uit twee kaartjies vir die vertoning en sluit nie reiskoste na die vertoning in nie. Die kaartjies sal SLEGS beskikbaar wees by die MEDIATOONBANK in die teater se voorportaal vanaf een uur voor die vertoning begin.

Kaartjies wat nie teen 20:00 by die mediatoonbank afgehaal is nie, sal by die loket gelos word tot die loket aan die einde van die aand sluit. As wenners nie die kaartjies kan gebruik nie, word hulle gevra om Jill Somers in kennis te stel by jildance@mweb.co.za. Geen kaartjies sal vervang word vir wenners wat nie opdaag nie. Deur in te skryf, aanvaar die deelnemer die bepalings en voorwaardes.