As jy ’n klein onderneming het of ’n nutsman of entrepreneur is, is ’n paneelwa ’n slim keuse; dit is praktieser as ’n bakkie omdat dit veelsydiger is en meer ruimte bied. Boonop is moderne paneelwaens gerieflik en veilig.

[post-slider]

Albei is beskikbaar met petrol- en dieselenjins, maar hier kyk ons na die intreevlakmodelle met ’n 1,6 L-enjin. Albei is ’n goeie kopie, maar Nissan het dalk ’n wenresep beet met die NV200

Nissan NV200 1,6 Visia

Nissan het die NV200 verlede jaar bekendgestel, en intussen het dit ’n gewilde keuse in sy segment geword. Dit is kompak maar steeds een van die ruimste paneelwaens in sy klas.

Standaardtoerusting sluit in afstandbeheerde sentrale sluiting, lugversorging, ’n maasafskorting van soliede metaal, kragstuur en ’n ritrekenaar.

Bêreplek in die passasiersruim sluit in twee groot paneelkissies, ’n kissie op die paneelbord asook vier bekerhouers. Die bestuurder se sitplek het ook ’n nuttige laai, en die passasiersitplekke se rugleuning verander in ’n stewige oppervlak wanneer dit platgevou word.

Met ’n laairuimte van altesaam 4 200 L bied die NV200 aansienlik meer ruimte as sy mededingers. Boonop kan dié wa maklik twee Euro-palette (of 783 kg) hanteer. Verder is daar aan weerskante van die wa twee skuifdeure, wat in- en uitlaai makliker en praktieser maak.

Vir ekstra lang items, soos ’n leer, kan die passasiersitplek platgevou word en die afskorting oopgeswaai word. Dit laat 2,8 m se laailengte.

Feite

  • Enjin: 1,6 L
  • Krag/wringkrag: 81 kW teen 6 000 r.p.m.; 153 Nm teen 4 400 r.p.m.
  • Gemiddelde brandstofverbruik: 7,2 L/100 km
  • Brandstoftenk: 55 L
  • Laaivermoë: 783 kg
  • Laaivolume: 4 200 L
  • Veiligheidskenmerke: ABS-remme, bestuurderslugsak
  • Waarborg: Drie jaar of 100 000 km
  • Prys: R204 100

Volkswagen Caddy 1,6

Volkswagen se Caddy-paneelwa is ’n aantreklike voertuig en hy is veral gewild vanweë sy duursaamheid

Die kajuit is die toonbeeld van goeie bougehalte; soos ’n mens van Volkswagen verwag. Standaardkenmerke sluit in dagryligte, kragstuur, sentrale sluiting en ’n teendiefstal-alarmstelsel. Soos in die Nissan NV200 is daar ook bedrading vir ’n radio, wat in albei voertuie opsioneel is.

Prysgewys het die Caddy ’n effense voordeel bo die NV200, maar dit het minder laairuimte en geen lugversorging nie, terwyl dit ook minder veelsydig is as die NV200. Dit het ’n laaivermoë van 741 kg terwyl die laairuimte altesaam 3 200 L is.

Daar is ook ’n enkele skuifdeur aan die linkerkant (duurder weergawes het deure weerskante) en oopswaaideure agter. Wat bêreplek betref, is daar in die passasiersruim ’n nuttige kompartement in die dak.

Feite

  • Enjin: 1,6 L
  • Krag/wringkrag: 74 kW teen 5 600 r.p.m.; 148 Nm teen 3 800 r.p.m.
  • Gemiddelde brandstofverbruik: 8,2 L/100 km
  • Brandstoftenk: 60 L
  • Laaivermoë: 741 kg
  • Laaivolume: 3 200 L
  • Veiligheidskenmerke: ABS-remme, bestuurderlugsak
  • Waarborg: Twee jaar of onbeperkte afstand
  • Prys: R203 300