Vrydag 18 April

Arctic Tale

E.tv, 10:30

Hierdie pragtig verfilmde dokumentêr volg ’n ysbeer en haar welpies, asook ’n walrus en haar kalf, soos hulle die moeilike lewe in die ysige Noordpoolstreek hanteer. Kinders gaan hierdie dokumentêr met ’n verskil geniet. Queen Latifah is die verteller.

The Jungle Book

M-Net Stars (DStv-kanaal 111) 14:15

Dit is dalk al in 1967 gemaak, maar dié klassieke animasiefliek, wat gegrond is op Rudyard Kipling se gewilde boek, raak net beter met tyd. Laat Mowgli, Baloo, Bagheera en Shere Khan die kinders vermaak!

Game of Thrones

M-Net (DStv-kanaal 101) 21:30

Die vierde seisoen van die fantasiereeks oor sewe families uit die adelstand wat veg om die troon in die mitiese koninkryk Westeros begin vanaand. Met twee episodes gaan aanhangers in die sewende hemel wees.

Saterdag 19 April

Monsters University

M-Net (DStv-kanaal 101) 06:00

Dit is nou wel vroeg in die dag vir ’n fliek, maar jy weet hoe is jong kinders oor ’n naweek. Hier is dus ’n goeie fliek wat hulle aan die skerm vasgenael sal hou sodat jy weer kan gaan lê en ’n bietjie ontspan. Dit handel oor Mike en Sulley voor hulle bobaas-verskrikkers geword het.

Alice in Wonderland

SABC2 16:00

As jy lus is vir iets aweregs, is Tim Burton se weergawe van Lewis Carroll se verhaal iets om te aanskou. Dit is grootliks te danke aan Johnny Depp se oordadige vertolking van die Mad Hatter met sy helderoranje hare. Mia Wasikowska is skattig in die hoofrol.

Gran Torino

M-Net Showcase (DStv-kanaal 108) 21:45

Clint Eastwood is die regisseur en vertolk die hoofrol, ’n nors, hardekwas oorlogsveteraan wat met niemand oor die weg kom nie – nie eers sy eie kinders nie. Toe sy tienerjarige buurseun sy motor probeer steel, vind die ou man vriendskap waar hy dit nooit sou verwag nie. Beslis die kyk werd.

Sondag 20 April

Chinese Grand Prix

SuperSport 6 (DStv-kanaal 206) 08:45

Moenie die hoë-oktaan-aksie van die Shanghai International Circuit misloop nie.

The Last Stand

M-Net (DStv-kanaal 101) 20:05

Wanneer dit by aksieflieks kom, moet jy soms net een kyk met Arnold Schwarzenegger wat sy ding doen: ’n groot pistool ronddra en dinge opblaas. Hierdie keer doen hy dit as die balju van ’n klein dorpie toe ’n ontsnapte misdadiger daar opdaag.

Beyond Candid with Giuliana

E! Entertainment (DStv-kanaal 124) 21:00

In die eerste episode van dié nuwe kletsprogram maak Demi Lovato hart oop oor haar eetsteuring, terapie en die daaglikse stryd om nugter en gelukkig te bly. Giuliana Rancic is die aanbieder.

Maandag 21 April

Winter’s Bone

M-Net Action (DStv-kanaal 110) 12:00

Jennifer Lawrence se verskynings in die Hunger Games-flieks en Silver Linings Playbook het baie aandag getrek. Hier is ’n kans om haar in ’n heel ander rol te sien: Sy speel ’n jong meisie wat haar dwelmhandelaar-pa probeer opspoor terwyl sy haar gesin bymekaar probeer hou.

Shirley Valentine

M-Net Stars (DStv-kanaal 111) 17:45

’n Bietjie komedie voor die werkweek begin! Shirley is moeg van haar lewe en wonder hoe sy so in ’n groef beland het. Sy vergesel ’n vriendin op ’n vakansie na Griekeland en begin dinge in ’n ander lig sien.