Of jy hou van ouskoolse aksieflieks, dramas met atmosfeer, ongelooflike animasie of intelligente komedie, daar is iets vir elkeen op die kassie hierdie naweek!

Vrydag

Hero Wanted

e.tv 20:30

Cuba Gooding Jr is ’n tawwe tienie in dié aksiefliek oor ’n ou wat ’n meisie probeer beïndruk, maar dan in groot moeilikheid beland: Hy skrik wakker langs ’n dooie vrou! Ray Liotta – wat lyk of hy gebore is om ’n rampokker of polisieman te speel – speel ’n polisieman in die fliek.

Saterdag

The Croods

MNet Premiere (kanaal 103) 18:30

Dié animasie-komedie gaan oor die prehistoriese Crood-gesin wat die grot wat hulle altyd teen gevare beskerm het, moet verlaat. Die patriarg van die gesin is nie gelukkig met die stand van sake nie, maar soos hulle nuwe plekke ontdek en nuwe vriende maak, besef hy die wêreld is glad nie so ’n vreesaanjaende plek nie. Volwassenes sal hou van die slim dialoog.

On The Road

MNet Romance (kanaal 107) 22:15

’n Jong, sukkelende skrywer word geruk deur sy pa se dood en onderneem ’n reis in die hoop om inspirasie te vind. Hy raak vriende met ’n charismatiese, vrygeestige man en dié se verleidelike vrou en soos hulle saam deur die suidweste van Amerika reis, maak hulle besluite wat hul lewens verander. Dis lekker om te sien hoe Kristen Stewart vir ’n verandering nie ’n blink vampier speel nie.

Sondag

Looper

M-Net 20:05

In die toekoms – 2074 om presies te wees – stuur misdaadbase hul vyande terug in tyd waar ’n huurmoordenaar hulle afmaai. Maar een van die sluipmoorde verloop nie volgens plan nie. As jy hou van wetenskapfiksie en aksie, sal jy mal wees oor die fliek met Bruce Willis wat sy ding doen soos net hy kan.

The Birdcage

e.tv 22:20

’n Flambojante gay pa moet voorgee hy is heteroseksueel wanneer hy sy seun se toekomstige skoonouers ontmoet. Robin Williams speel die pa, die eienaar van ’n klub vir fopdossers, en Nathan Lane is sy lewensmaat – jy kan dus verwag om lekker te skater. Dié is ’n meesterstuk.