Dis nou nie juis ligte kykstof nie, maar daar is vanaand ’n fliek op die kassie wat jy nie moet misloop nie – Cry, The Beloved Country, wat op Alan Paton se boek gegrond is. Vir die res van die week is daar iets van alles: ’n Vampierfliek vir tieners, komedies van twee komediante wat soos dag en nag verskil – Rowan Atkinson en Martin Lawrence – en ’n oorspronklike aksiefliek.

Vrydag 7 Maart

Cry, The Beloved Country SABC3 20:30 Die fliek, wat op Alan Paton se roman gegrond is, is een van daardie rolprente wat elke Suid-Afrikaner behoort te sien. James Earl Jones speel ’n priester tydens apartheid in Suid-Afrika wat na sy dorpie in Johannesburg ontbied word, waar hy uitvind sy seun is in die tronk in verband met ’n rooftog waarin ’n wit man dood is. Hy ontmoet die man se pa, gespeel deur die veteraanakteur Richard Harris, en die ontmoeting verander hul lewens.

Saterdag 8 Maart

My Babysitter’s A Vampire

SABC2 16:00 Tieners sal dol hieroor wees. Die bleeksiel Ethan se ouers vertrou nie dat hy na sy kleinsus, Jane, kan omsien nie en huur ’n oppasser. Maar Ethan vermoed die nuwe oppasser is ’n bloedsuiende vampier, en hy besluit om dit te bewys. Die fliek was so gewild dat dit tot ’n TV-reeks gelei het. Johnny English SABC3 19:30 Die onverbeterlike Rowan Atkinson speel die hoofrol in dié fliek wat draaksteek met spioenflieks. Ná ’n aanval op MI5 is Johnny English Brittanje se enigste beskikbare agent wat met ’n slinkse Fransman, wat die kroonjuwele gesteel het, kan afreken.

Sondag 9 Maart

Big Momma's House 2

e.tv 20:00

Die komediant Martin Lawrence is terug in sy vetpak en speel weereens sy mees uitspattige karakter – Big Momma. Dié keer hou die geheime FBI-agent sy lyf oppasser vir ’n vrou wat vir moord ondersoek word.

GI Joe Retaliation

M-Net 20:05

As jy lus vir aksie, is dit die fliek vir jou. Daar is geen tekort aan tawwe tienies in dié fliek nie – Bruce Willis, Dwayne “The Rock” Johnson en Channing Tatum. En hulle baklei nie net met die skurke nie – hulle moet ook bedreigings in die regering hanteer.