Aanhangers van Will Smith word die naweek lekker bederf – kyk die eerste (en beste) Bad Boys-fliek vanaand en Saterdag speel hy ’n anti-superheld in Hancock. As jy nog dolverlief is ná verlede Vrydag is daar ook ’n paar goeie romkoms wat die naweek uitgesaai word. En moenie Argo, wat die kritici beïndruk het, Sondag misloop nie. Vrydag 21 Februarie Bad Boys e.tv 20:30 Dis Will Smith en Martin Lawrence op hul beste. Die tweestuks speel speurders in Miami wat ’n gesteelde besending heroïen moet opspoor en hul vriend se moord moet oplos. Kan jy glo die fliek is amper 20 jaar oud – dis in 1995 gemaak! Saterdag 22 Februarie

Sweet Home Alabama

SABC3 19:30

Reese Witherspoon speel ’n mode-ontwerper wat moet terugkeer na haar klein tuisdorpie in die gramadoelas om te skei – sodat sy kan trou met die ou wat sy dink is die man van haar drome. Maar wie wil dan nou skei van ’n sexy hartebreker soos Josh Lucas? Hancock e.tv 20:00 Will Smith speel ’n superheld met ’n verskil – hy drink, vloek en is min geskeel oor die publiek se veiligheid. Maar dis juis wat Hancock so dierbaar maak. Hy vra ’n publisiteitsghoeroe, Ray, om hom te help om sy beeld te poets – totdat dié uitvind van die verhouding tussen Hancock en sy vrou (vertolk deur Charlize Theron). Sondag 23 Februarie

40 Days & 40 Nights

SABC1 20:00

Josh Hartnett was destyds die oulike soort ou van langsaan wat nie besef het hoe aantreklik hy nou eintlik is nie. In dié fliek besluit hy om ná ’n verbrokkelde verhouding nie meer so rond te lol nie. En dan ontmoet hy die meisie van sy drome . . .

Argo

M-Net 20:05

Moenie dié fliek misloop nie. Ben Affleck speel teenoor John Goodman en Bryan Cranston en is ’n CIA-agent wat maak asof hy ’n Hollywoodse regisseur is wat ’n fliek in Iran tydens die burgeroorlog maak. Maar eintlik is hy besig om Amerikaanse burgers te red wat in die land vasgekeer is.