Die naweek is propvol TV-vermaak vir ieder en elk - en die kleinspan kan veral uitsien na die gewilde Frozen-tekenprent.

Vrydag

Rocky

e.tv (DStv-kanaal 194) 20:30

Dit is een van Sylvester Stallone se bekendste rolle en dit het Eye Of The Tiger in ’n trefferliedjie omskep. Waaroor handel dit? ’n Buiteperd-bokser word die wêreld-swaargewigkampioen en kry die meisie van sy drome!

Extraordinary Measures

SABC3 (DStv-kanaal 193) 21:00

’n Siek kind is enige ouer se grootste nagmerrie, maar dit is nog erger vir Brendan Fraser en Keri Russell in hierdie tranetrekker – albei hul kinders het dieselfde toestand en die paartjie maak dit hul doel in die lewe om ’n geneesmiddel te vind.

Abraham Lincoln: Vampire Hunter

M-Net (DStv-kanaal 101) 21:30

Het jy geweet die befaamde Amerikaanse president het op sy dag vampiere gejag? Oukei, nie regtig nie – dit is ’n fiktiewe verhaal. Maar dit is ook een van die koelste wetenskapsfiksie-flieks wat ons in ’n lang tyd gesien het.

Saterdag

Open Season 2

SABC2 (DStv-kanaal 192) 16:00

Dit is een wat jy saam met die kleingoed kan geniet. Mr. Weenie die worshond se ou vriende ontvoer hom, maar sy nuwe vriende gaan nie sommer gou bes gee nie.

Scary Movie

e.tv (DStv-kanaal 194) 22:05

Dit is die fliek vir jou as jy lus is vir lawwe humor. Die Wayans-broers steek die draak met omtrent elke rillerfliek, van Scream tot I Know What You Did Last Summêr, alles in die naam van komedie.

Pacific Rim

M-Net (DStv-kanaal 101) 00:50

Gaan Sondag met ’n slag binne met reuse seemonsters van ’n ander heelal wat pak kry by daai een ou van Sons Of Anarchy en die ou van Mandela, Long Walk To Freedom. Daar is net een manier om hierdie oorlog te wen: gebruik reuse robotte om die monsters te verslaan!

Sondag

The Taking Of Pelham 123

e.tv (DStv-kanaal 194) 20:00

’n Groep terroriste neem ’n hele moltreinstasie gyselaar. Wie is daar om hulle te red? Denzel Washington op sy ernstigste – en nog beter, hy kom te staan teen John Travolta as ’n terroris. John weet nou maar eenmaal hoe om ’n skurk te speel.

Frozen

M-Net (DStv-kanaal 101) 20:05

Die koninkryk is in ’n ewige winter gehul, en net drie mense kan dit tot sy vorige prag herstel: ’n prinses, haar woudbewoner-vriend en sy mal rendier Sven. Dit is ’n Disney-fliek, dit is aangenaam en dit is betowerend. Maar wees gewaarsku: Jy gaan dae ná die tyd nog Let It Go sing!

Memoirs Of An Invisible Man

e.tv (DStv-kanaal 194) 22:10

Jy kry nie meer ouskools as dit nie – hierdie fliek is 22 jaar oud en Chevy Chase kielie die lagspiere as Nick Holloway, ’n man wat onsigbaar gemaak word en dan van die CIA vlug.