Sy het diep in Kokkedoor-aanhangers se hart gekruip, en danksy haar gewildheid is tannie Poppie Coetzer (68) se lewe op Kriel in Mpumalanga omtrent ’n drukkoker.

“Ek reis die land plat; ek gaan na al wat ’n fees is. Ek doen kosdemonstrasies, ek word genooi om beoordelaar te wees by koswedstryde . . . My dagboek is tot Oktober toe vol!” sê sy.

Hoewel sy vierde geëindig het in die eerste seisoen, is sy einde verlede jaar ’n kookboekkontrak aangebied.

“Dis klaar geskryf en ek hoop dit is teen Moedersdag (11 Mei) beskikbaar. Dit het nog nie ’n naam nie, maar my aanhangers kan sommer op my Facebook-blad (Poppie Coetzer) of Twitter-profiel (@poppiecoetzer) een voorstel.”

Sy is opgewonde oor die nuwe seisoen en sy het wyse raad vir die deelnemers. “Dis hartseer wanneer jy nie die paal haal nie, maar moenie op ’n hopie gaan sit nie. Jou reis begin eers ná die program.

“Ek het nie gewen nie, maar elke dag is opwindend; dis die grootste avontuur van my lewe.”

Christiaan Boonzaier