supersad

Hy is ’n gewilde rapper, skrywer, digter, aktivis, vermaker, opvoeder en motiveringspreker en het ’n passie vir Afrikaans. Die Kaapse hip-hop-kunstenaar HemelBesem is op 19 September by SuperSkouspel in Johannesburg te sien.

hemelbesem

“Ek sien uit daarna om op te tree, want dis lekker om ‘iets anders’ na groot gehore te vat!” sê HemelBesem, gebore Simon Witbooi (33), oor sy debuut by Huisgenoot se gewilde konsert. Hy voel net soos Francois van Coke van Fokofpolisiekar maak Afrikaanse hip-hop ook goeie voorbrand vir Afrikaans. “Akademici het nie noodwendig die taal soveel laat groei nie. Hulle het dit in ’n kluis gesit. Dis mooi en geberg. Die handboeke het stof vergader,” meen hy. Maar hy glo daar is ’n oplewing en hy is saam met groepe soos die ATKV deel daarvan. Hulle reis landwyd om die taal te bevorder.

'Stilte bied ruimte tot denke.'

Nog ’n passie van Simon is tatoeëermerke. Op die kant van sy linkerarm is die woord “Silence” in lopende skrif verewig. “Stilte bied ruimte tot denke,” verduidelik hy. Die stertjie van die laaste “e” in die woord strek tot by die punt van sy linkerpinkie. “Dis die hand waarmee ek die mikrofoon vashou as ek sing. Dis prakties; ek doen wat ek sê.”

Hy het nege albums die lig laat sien waarvan sewe deur homself en sy jongste twee deur BLM Music uitgereik is.

HemelBesem het arm grootgeword in Blackheath in die suidelike voorstede van Kaapstad. Ná matriek is hy Worcester toe waar hy vir ’n ruk pastoor was voor hy in 2011 besluit het om terug te keer Kaapstad toe en op sy musiek te fokus. Hy is soms te hoor op RSG en Vallei-FM en is van die begin van die jaar ’n aanbieder in Pasella.

Nie baie mense weet hy was ’n “vuurvreter-flank” en dat hy klubrugby gespeel het vir die Villagers en vir Perseverance op Worcester nie. Sy gunsteling Afrikaanse skrywers is die liedjieskrywers Jaco van der Merwe van Bittereinder en Gian Groen. “En ek het baie waardering vir die (ontslape) storieverteller Jan Spies.”

Maar as hy die mikrofoon vat en met kletsrym Afrikaanse woorde soos geweerskote afvuur, is hy die een wat die kollig steel.

- Pieter van Zyl

Bespreek vir SuperSkouspel by online.computicket.com, bel 0861-915-8000 of besoek jou naaste Computicket.

DIGITAL BANNER_HG_600x450 (0-00-00-00)