[post-slider]
Dié nuwe glansvoertuig heet die GLA en is gebaseer op die gewilde A-klas, maar dit is ’n bietjie groter, het meer ruimte en het natuurlik meer grondvryhoogte.

Die instrumentpaneel is soortgelyk aan die A-klas en daar is talle keuses vir die binne-afwerking beskikbaar. Boonop het die GLA ’n rits innoverende tegnologiese kenmerke, asook talle luukshede.

Tot tyd en wyl sal die GLA slegs met twee turbodieselenjins beskikbaar wees, maar twee petrolweergawes sal van September beskikbaar wees.

Die GLA 200 CDI het ’n 2,1 L-turbodieselenjin wat 100 kW en 300 Nm lewer en ’n gemiddelde brandstofverbruik van 4,3 L/100 km. Die ander dieselmodel is die GLA 220 CDI, wat 125 kW en 350 Nm lewer en ’n gemiddelde brandstofverbruik van 5,1 L/100 km het.

Die petrolmodelle wat hulle by die reeks gaan aansluit, is die 1,6 L-GLA 200, wat 115 kW en 250 Nm lewer en die 2 L-GLA 250, wat 155 kW lewer.

Die GLA 200 en GLA 200 CDI is voorwielaangedrewe, terwyl die GLA 250 en GLA 220 CDI vierwielaangedrewe is. Laasgenoemde twee kom met Mercedes se sewe-spoed outomatiese ratkas, wat ’n opsionele ekstra is vir die ander twee modelle.

Pryse

  • Mercedes-Benz GLA 200 – R398 800
  • Mercedes-Benz GLA 250 4MATIC – R558 900
  • Mercedes-Benz GLA 200 CDI – R422 700
  • Mercedes-Benz GLA 220 CDI 4MATIC – R489 000