Begin die naweek met ’n Colin Farrell-aksiefliek of ’n ongewone romantiese wetenskapsfiksieriller met Matt Damon en Emily Blunt in die hoofrolle. Saterdag kan jy Amy Adams ’n sprokiesprinses sien speel wat probeer sin maak van liefde in die regte wêreld. Sondag kan jy kies tussen The Rock wat ’n groep kinders wil help en Vince Vaughn en Owen Wilson wat die lagspiere kielie.

Vrydag 25 April

S.W.A.T.

e.tv (DStv-kanaal  194) 20:30

’n Dwelmhandelaar bied ’n reuse kontantprys aan vir enigeen wat hom uit die tronk kan kry, en net Los Angeles se Special Weapons and Tactics-span kan dit voorkom. Colin Farrell  is op sy arrogante beste as die nuweling wat gesag nie so goed kan hanteer nie. Hy kom te staan teen Samuel L. Jackson as sy spanleier.

The Adjustment Bureau

SABC1 (DStv-kanaal 191) 22:00

Wat is nou romantieser as ’n hoëprofiel-politikus was verlief raak op ’n pragtige ballerina? Maar geheimsinnige magte probeer hulle uitmekaar hou. Dié fliek het ’n bietjie van alles: riller, drama, romanse en wetenskapsfiksie! Matt Damon en Emily Blunt speel hierin.

Saterdag 26 April

Enchanted

SABC3 (DStv-kanaal 193) 19:30

Die sprokieswêreld en New York bots in dié fliek, waarin ’n prinses deur ’n bose koningin na die regte wêreld verban word. Prinses Giselle (Amy Adams) begin haar siening van die liefde en die lewe verander nadat sy ’n aantreklike prokureur (Patrick Dempsey van Grey’s Anatomy) ontmoet. James Marsden speel die prins wat haar kom red.

Sondag 27 April

Gridiron Gang

e.tv (DStv-kanaal 194) 20:00

Dwayne “The Rock” Johnson speel  ’n voormalige voetbalspeler wat die gebrek aan dissipline en selfrespek by ’n aanhoudingsentrum vir jeugoortreders. Hy besluit om sport te gebruik om dié kinders se siening van die lewe te verander.

The Internship

M-Net (DStv-kanaal 101) 20:05

Vince Vaughn en sy maat Owen Wilson is terug. Dié keer maak hulle amok by Google se hoofkantoor as twee onbeholpe verkoopsmanne wat probeer uitstaan tussen ’n spul tegno-slim jong latte.