Naam en van

Marc Ruwiel (47)

Waar het jy studeer?

Universiteit van Stellenbosch & Cape Peninsula of Technology

Wat het jy studeer en hoe lank?

Ek het eers ’n graad in Industriële Ingenieurswese aan Stellenbosch behaal, en later ’n NHD ( nou genoem B.Tech) in Industriële Ontwerp aan die Kaapse Technikon ( nou CPUT )

Waar kom jy vandaan?

Ek is gebore in Amstelveen in Nederland. My ouers het na Suid-Afrika geëmigreer toe ek agt jaar oud was. Ek het toe min sê oor die saak gehad, maar nou wil ek op geen ander plek woon nie.

Waarom het jy industriële ontwerp gekies?

Dit kombineer kreatiwiteit en praktyk. Ek het begin met ingenieurswese, maar gou besef dis heeltemal te beperkend vir my.

Hoe lank werk jy al in hierdie veld?

15 jaar

Wat is die voor- en nadele van hierdie loopbaan?

Die voordele is die werk is nie herhalend nie. ’n Mens doen altyd iets anders en is altyd besig om iets te leer. Een van die nadele is die kliënte speel dikwels veilig, en skram weg van kreatiwiteit.

Watter karaktereienskappe sal by hierdie loopbaan pas?

Industriële ontwerp is ’n loopbaan waarin verskeie persoonlikhede sal pas. Daar is werklik nie ’n tipiese industriële ontwerper nie. ’n Mens moet natuurlik kreatief en nuuskierig wees. Sommige ontwerpers is beter met konseptuele en “blou lug” denke, terwyl ander meer prakties is en daarop konsentreer om dinge te laat werk. Daar is ruimte vir albei in hierdie rigting.

Hoe goed is die vergoeding in die algemeen?

Daar is geen vergoeding “in die algemeen” in industriële ontwerp nie. Hoe beter jy is, hoe meer sal jy betaal word.

Watter raad het jy vir voornemende industriële ontwerpers?

Teken, droom en haal alles uitmekaar waarop jy jou hande kan lê.

Watter vakke het jy nodig om industriële ontwerp te studeer?

Ek sou sê wiskunde, kuns en tegnologie. Dit help ook om ’n goeie algemene kennis te hê.

Wat sou jy sê is die werkbevrediging op ’n skaal van 1 tot 10?

Op goeie dae, 11. Dis wonderlik om jou ontwerpe in produksie te sien gaan. Tog het alle werke slegte dae.

Marc is die eienaar van Ideso, ’n Kaapstadse industriële ontwerpersfirma. Vir meer inligting besoek Ideso se webtuiste deur hier te kliek.