851562_606029466087655_116037698_n

Daar is die afgelope jare speletjies op selfone danksy die ontwikkeling van goeie apps vir iOS (iPhone) en Android (Samsung). Dit beteken nie die einde van die konsole nie, maar verander beslis die dinamiek, met breinlose vermaak op jou vingerpunte, pleks van in jou sitkamer.

Ons kyk na die vyf suksesvolste en gewildste speletjie-apps van die jaar. As jy tyd het om te verspil, begin gerus aflaai; almal is gratis.

Candy Crush Saga

Hierdie verslawende raaiselspeletjie is nou al ’n ruk boaan die gewildheidsleër. En g’n wonder nie: Dis al meer as 500 miljoen keer afgelaai vandat dit verlede jaar uitgereik is. Die speletjie was aanvanklik ’n webtuiste-speletjie wat ’n lewe van sy eie gekry het nadat dit as ’n speletjie op Facebook beskikbaar was. Die eienaars van die app verdien glo minstens R30 miljoen per dag!

Hoe dit werk: Dis ’n basiese “kry drie van ’n soort”-speletjie waarin jy lekkers moet uitruil om uit te skakel. Om meer as drie lekkers uit te ruil skep spesiale lekkers wat ’n hele klomp van hulle gelyktydig kan elimineer. Die vlakke raak ál moeiliker; namate jy vorder kan jy óf moed opgee óf jouself doodmaak terwyl jy probeer!

Plants vs Zombies 2: It’s About Time

Dis eers op konsoles uitgereik voor dit op selfoon-apps verskyn het. Dis een van die gewildste speletjies van die jaar, ná die sukses van Plants vs Zombies op rekenaars en handtoestelle. Die speletjie is in 2009 uitgereik. Die jongste konsole-variasie, Plants vs Zombies: Garden Warfare, is ’n prettige speletjie vir meer as een deelnemer.

Hoe dit werk: Dis ’n strategiespeletjie, waarin jy moet skiet na ’n aanhoudende stroom zombies wat jou huis wil aanval en jou brein vreet. Jou enigste verdediging is jou plante, wat verskeie goed kan doen, soos ertjies skiet of ontplof. Vet pret!

Clash of Clans

Die Finse speletjiesmaatskappy Supercell besit Clash of Clans en Hay Day, twee speletjies wat onder die beste van die jaar tel. Hul deursettingsvermoë om speletjies te ontwerp waarna mense gek is, het die maatskappy R30 biljoen in die sak gebring.

Hoe dit werk: Dis ’n strategiese speletjie soortgelyk aan Sims (daardie gewilde rekenaarspeletjie waarin jy jou eie gemeenskap moet bou). Jy moet dieselfde hier doen, maar die gemeenskap bestaan uit soldate wat jy moet afrig om te veg. Jy verdien goud en kan edelstene koop soat jy vinniger vorder.

Hay Day

Hierdie speletjie is eers aan iPhone-gebruikers voorgestel voor dit op Android beskikbaar gestel is. Dit stem ooreen met die gewilde Facebook-speletjie FarmVille, waarin jy ’n plasie besit het.

Hoe dit werk: Jy besit ’n plaas, kompleet met allerhande diere. Jy moet die diere grootmaak, bakkerye bou en produkte plant en verkoop. Soos alle freemium-speletjies (gratis speletjies waarvoor jy ekstra dinge kan koop), vorder jy vinniger as jy bereid is om geld te bestee. Munte en diamante is jou geldeenheid en jy moet dikwels geld uitgee om diamante te kry.

Pet Rescue Saga

Die skeppers van Candy Crush het hierdie nuwe raaiselspeletjie in Junie vanjaar uitgereik. Dit werk volgens dieselfde beginsel as Candy Crush – jy moet troeteldiere red, van hondjies tot hasies, wat bedreig word deur bose troeteldierdiewe.

Hoe dit werk: Dis ook ’n “kry drie of meer van ’n soort”-speletjie. Daar is 312 vlakke, wat moeiliker raak namate jy vorder, nes Candy Crush. Jy verdien munte as jou geldeenheid en het vyf lewens, wat af en toe aangevul word.

-      GILDA NARSIMDAS