Moet jou nie bekommer nie, daar is ’n paar aksieflieks ook te sien, plus ’n lekker plaaslike animasiefliek vir die kinders Sondagoggend. Vrydag 14 Februarie

Valentine’s Day

SABC3, 20:30

Dis byna soos ’n wie’s wie van Hollywood in die oulike romantiese komedie oor ’n spul paartjies en enkellopendes wat moet reken met die verwagtinge en druk van Valentynsdag. Van die groot name in die fliek sluit Ashton Kutcher, Julia Roberts, Anne Hathaway, Taylor Swift, Jamie Fozz en Bradley Cooper in. The Saint e.tv, 20:30 As jy nie in die bui is vir romanse nie, is hier ’n stukkie aksie. Val Kilmer speel ’n man bekend as The Saint oor hy geneig is om vals identiteite te skep op grond van die name van Katolieke heiliges. Hy word ’n meester van vermomming wanneer hy ’n geheime regeringsformule probeer steel wat die wêreld kan verander. Luister mooi wanneer hy hom as ’n langhaar-kunstenaar vermom – dis sy poging tot ’n Suid-Afrikaanse aksent. Saterdag 15 Februarie When In Rome SABC3, 19:30 Vanaand hou nog romanse in met dié fliek oor ‘n jong New Yorker met ‘n ongelukkige liefdeslewe. Sy onderneem ‘n warrewind-toer na Rome waar sy ‘n paar muntstukke uit die fabelagtige Fontein van die Liefde steel. Ja, jy raai reg: skielik word sy oorval deur aantreklike jong aanhangers! Voorspelbaar, maar oulik. Sondag 16 Februarie

Adventures in Zambezia

M-Net, 10:00

Hierdie kinderfliek is plaaslik gemaak en heerlik om te kyk! Die verhaal van ‘n jonk valk wat na Zambezia, ‘n yslike stad van voëls trek en ongelooflike avonture beleef sal klein ogies vasgenael hou op die skerm.

Olympus Has Fallen

M-Net, 20:05

’n Bietjie aksie is dalk net wat jy nodig het op ‘n Sondagaand. Hierdie fliek is perfek daarvoor: Gerard Butler speel ‘n presidensiële lyfwag wat in onguns verval het. Hy keer dan terug na die Withuis om die president, wat deur Koreaanse terroriste gyselaar gehou word, te red. Kry die springmielies en skuif reg!