Kry ’n kykie na ’n superster se lewe op toer – die fliek oor Katy Perry se California Dreams-toer wys dit is nie so glansryk soos wat jy dalk dink nie. .

Vrydag

Katy Perry The Movie: Part of Me

M-Net Showcase (DStv-kanaal 108) 19:45

Hierdie dokumentêr volg die sanger Katy Perry op haar California Dreams-toer, en terwyl sy van stad tot stad reis, vertel sy hoe sy roem verwerf het ná haar kinderjare in ’n streng godsdienstige huis. Die fliek wys haar vasbeslotenheid, maar ook haar kwesbaarste sy.

Game of Thrones spesiale uitgawe

M-Net (DStv-kanaal 101) 21:30

Die vierde seisoen begin volgende Vrydag en hier kan jy agter die skerms ’n kykie kry na wat vir dié gewilde fantasiereeks voorlê.

Saterdag

Finding Neverland

SABC2 16:00

As jy al ooit gewonder het hoe J.M. Barrie die idee gekry het vir sy karakter Peter Pan, kan jy hier jou antwoord kry. In hierdie roerende fliek speel Johnny Depp die skrywer, wat bevriend raak met vier seuns wat sonder ’n pa grootword en eindelik ’n verhaal skryf oor kinders wat nie wil grootword nie. Kate Winslet speel ook in die fliek.

Feast of Love

SABC3 19:30

Die mense in ’n klein dorpie in Oregon moet koes toe Kupido links en regs pyle begin afvuur en mense verlief raak. Dié drama is deur een resensent beskryf as ’n “oordenking oor die liefde”, en Morgan Freeman, Radha Mitchell en Greg Kinnear speel daarin.

Sondag

Snitch

M-Net 20:05

Aanhangers van Dwayne “The Rock” Johnson kan nader sit! Die spierpaleis vertolk die rol van ’n pa wat aanbied om vir die polisie ’n geheime sending onderneem nadat sy seun verkeerdelik as ’n dwelmhandelaar aangewys is. Dis ’n moeilike taak en hy moet kophou om te oorleef.