Môre kan jy kyk na die klassieke Pride and Prejudice met Colin Firth as Mr. Darcy en Sondag kan jy ’n animasie-meesterstuk saam met die kinders geniet.

Vrydag 28 Maart

Equilibrium

SABC3 20:30

In ’n toekoms waar gevoelens verbode is, probeer ’n man wat veronderstel is om die wet toe te pas die stelsel omver werp. Christian Bale speel in die fliek. Hy trek aan soos Keanu Reeves se karakter in die Matrix-flieks, en doen sy ding met swaarde en gewere. Wat meer kan jy vra van ’n Vrydagaand-fliek?

The Whistle Blower

SABC1 22:00

’n Oorlogsveteraan wat die moord op sy seun tydens die Koue Oorlog ondersoek, ontdek ’n web van bedrog en paranoia. Dis gegrond op ware gebeure en Michael Caine en sir John Gielgud vertolk die hoofrolle. ’n Moet as jy hou van spioenasieflieks.

Saterdag 29 Maart

Pride & Prejudice

SABC3 19:30

Skuif reg vir ’n historiese drama en romanse met die aantreklike Mr. Darcy wat verlief raak op die gewone burger Elizabeth. Die verhaal, oor die liefde wat ondanks alles oorwin, is gegrond op Jane Austen se klassieke roman oor klas, huwelike en sedes in die vroeë 19de eeu in Engeland, en het beslis die toets van die tyd deurstaan. (En Colin Firth is uitstekend as Mr. Darcy!)

Sondag 30 Maart

Madagascar 3: Europe’s Most Wanted

M-Net 10:00

Die koel vierstuks is terug en probeer steeds hul weg terug na die dieretuin in New York vind. Dié keer reis hulle deur Europa as deel van ’n reisende sirkus. Die fantastiese animasie, oulike karakters en briljante dialoog sal sorg dat volwassenes dit net soveel soos die kinders sal geniet.

Man On Fire

e.tv 20:00

Denzel Washington speel ’n voormalige CIA-agent wat tou opgegooi het

en ’n werk as lyfwag in Mexikostad aanvaar omdat hy niks beter het om te doen nie. Die dogtertjie wat hy moet beskerm, kruip in sy hart – en dan gebeur die ondenkbare.