DIS ’n jaar later. ‘‘Hoe lyk dit dan, Santjie? Dit word laat, man!’’ Mike se bolwange is hoogrooi, ’n sweetlagie blink op sy voorkop.

Die Baadjiepak draai berispend na hom:

‘‘Suzanne se ma is ’n paar weke gelede oorlede, Mike, sy sal nie vanaand dans nie.’’

‘‘Ek het jare lank juis vír my ma gedans.’’ Onbegrip op die gesigte om my.

‘‘Maar van nou af dans ek vir my eie man. By ons eie huis.’’

Luide gelag, gemaakte kreune, joviale klappe op Hein se rug. Ek steek my hand na my man toe uit.

Skouer aanskouer stap ons in die onpersoonlike gang af, weg van die lig en warmte van die partytjie.

By die huis steek ek die kerse aan, druk die knoppie van die CD-speler. Ek trek my los toppie stadig en nadruklik uit.

Die lyne van ons huis vou sag om my; ek dans die laaste vrees en voorbehoude uit my lyf en uit my hart. Ek laat val my skanse een vir een voor die man wat ek lief het, tot ek naak en weerloos voor hom staan.

Sonder enige vrees.