IN DIE kombuis maak my vier troefkaarte gesellig ’n handjie om die tafel, glasies in die hand, asbakke tjok en blok, tjipspapiere waar jy kyk. Ek kyk hoe vier paar oë waaksaam raak, ’n onsigbare gordyn skuif voor die gesigte in.

Uit die kamer roep die oumensstem angstig:

‘‘Is dit jy, Santjie?’’

‘‘Dié man wil weet hoekom minag ek die mansgeslag, dalk kan julle hom ’n bietjie help,’’ praat ek oor my skouer op pad kamer toe.

Ek druk die maer oumenslyfie teen my aan. Sy ruik na poeier en pille en ouderdom.

‘‘Het jy weer gedans, my kind?’’

‘‘Ja, Ma.’’

Ek het nog nooit nodig gehad om te verduidelik nie. Toe sy te hore kom van my jaarlikse eskapades, het sy onmiddellik verstaan.

My ma het geweet ek dans ook vir haar. Vir haar en vir elke mishandelde vrou wat al ’’n tydelike hawe in my huis gevind het, soos Sophia en Klara en Nomsa en Marie daar binne.

Ek dans vir elke vrou wat magteloos buig voor die wil van ’n man, vir elke vrou wat vrees vir haar kinders, vir elke vrou met donker merke op haar vel, vir elke vrou met letsels aan haar siel.

Maar veral vir my ma; vir my ma wat die man wat sy liefgehad het, uit haar dogter se bed kom ruk en nooit weer teruggekyk het na hom nie.

Daarvandaan het ek en sy die pad alleen gestap. Manloos, vaderloos, vreeslik arm aan die begin–maar vry. Waar ek die pad nie kon stap nie, het ek hom eenvoudig gedans. Met my talent, my lyf en my minagting vir mans het ek my ma gehelp om die wolf van die deur te hou.

Nou is sy oud en weerloos; sy gaan my binnekort verlaat. En ek is nie gereed vir alleen agterbly nie.

Ek sit by haar, streel die verrimpelde ou hand tot sy weer insluimer. Ek kyk na die weerlose lyne van haar gesig, die ingevalle mond, die kinderlike vertroue waarmee die hand met die ouderdoms vlekkies in myne lê.

Ek vergeet doelbewus van die man in die kombuis; ek sit en voed my siel met jare se gif.

Maar toe ek eindelik my kombuis binneloop en hom sien sit tussen my verwonde vroue, hoe hy met aandag luister na Nomsa se hartseerverhaal, sy oë stip op die gesig met die donker merke onder die oë, die sleg toegewerkte letsel oor die wang, toe trek my keel toe van vrees.

Die vrees dat ek nie regtig sterk genoeg is om die pad alleen te stap nie.

‘‘Hein sê jy het weer die manne vanaand hul tonge lekker laat vastrap!’’ lag Klara op na my toe ek inkom. Haar passion gap wat nie van liefde kom nie, word dié week herstel.

My jaarlikse wraakdans is so effens legendaries onder die vroue wat deur my huis vloei; dit word spontaan van groep na groep oorgelewer.

‘‘Ek het dadelik gesien jy kán dans.’’ Hulle het dus my storie klaar met kleur en geur aan

hom opgedis. Hy sit rustig langs my tafel, asof hy gekom het om te bly. Die waaksaamheid op die vroue se gesigte het verslap, hulle raak te gou gerus, vertrou te gou. Ek bly staan teen die wasbak.

‘‘Dis baie laat, jou vrou sal onrustig word.’’ My hart kramp seer in my binneste.

‘‘Ek het nie ’n vrou nie. En jy’s reg, dis laat, maar ek kom môreaand weer.’’ Hy lig hom lui-lui uit die stoel.

‘‘Om te?’’ Hy’s net ’n aks langer as ek; ek staan doelbewus fier en trots voor hom.

Hy laat hom nie intimideer nie; die donker oë wyk nie ’n duim voor myne nie. ‘‘Om verder met dié dames te gesels. En met jou. Oor regshulp vir hulle.’’

Hoe lank bid ek nie al vir ’n regsgeleerde met ’n hart vir dié saak nie! As ek maar net mý hart kan vertrou.

Hy vat sy sleutels, groet in die rondte.

‘‘Kom eet sommer môreaand hier, Hein!’’ roep Klara agterna.

Klara het die wonderlikste onthale vir haar besigheidsman gehou; sy is ’n kok duisend. Haar merke is onsigbaar, van die soort wat die tong maak, wat veel moeiliker genees as dié aan die buitekant.

Ek stap saam tot by sy motor. ‘‘As  jy dié vroue hoop gee en dan in die steek laat, gaan ek jou iets verskrikliks aandoen.’’

‘‘Ek is nie iemand wat teruggaan op my woord nie.’’ Hy lig sy hand in die nou bekende gebaar.

‘‘Kan ek wyn saambring?”

“Seweuur?’’

Ek kyk die motor agterna en toe op na die stadshemel. Ek het nog nooit opgelet ’n mens kan soveel sterre hiervandaan sien nie.