’n Koppige man, gewoond daaraan om te kry wat hy wil hê. Ons voetstappe klink hol in die donker buik van die parkeergarage. Hy bly staan tot ek wegtrek; lig sy hand in ’n halwe saluut. Op my maag kom lê ’n klein warm kolletjie.

Toe ek in my garage stilhou, stop die man waaragtig agter my. Met die oopmaak van die motordeur is hy langs my met sy arms weerskante van my op die motordak en deur.

Ek wil-wil paniekerig raak, dwing my om rustig asem te haal. Maar ek het waarskynlik niks te vrees nie; hy’s so nugter soos ’n spook. Ek grinnik onwillekeurig toe ek dink aan die arme vroue wat nou moet huis toe sukkel met my halfdronk manlike kollegas.

‘‘Hoekom haat jy die mans so?’’ Vir hierdie jafel sal ek moet lig loop, sy taktiek is ’n nuwe een.

‘‘Ek haat hulle nie.’’ Ek hou my stem met moeite lig en neutraal.

Hy vryf nadenkend oor sy gesig. ‘‘Nee, nie regtig haat nie. Eerder minag.’’ Daar’s ’n tartende gleufie in sy ken.

‘‘Ek het bloot nie respek vir mans nie.’’ Ek kyk hom doelbewus reguit in die oë.

‘‘Allemans?’’ Sy gesig kom nader, sy oë hou myne gevange.

‘‘Alle mans.’’ Ek kyk hom nonchalant aan en staan vinnig opsy.

‘‘Nag.’’

Ek druk die skakelaar, die deur begin sak. Te laat kom ek my fout agter; hy duik nie uit om by sy motor te kom nie, hy stap rustig saam met my by die binnedeur in kombuis toe. Ek ken nie die man nie. Hy kan gewelddadig wees vir al wat ek weet, nugter of nie nugter nie.

Gelukkig het ek ’n troefkaart. Eintlik ’n hele paar van hulle.