DIE mans beweeg terug na hul metgeselle, handsakke en baadjies word bymekaargevat, die aandjie is verby.

Pieter se vroutjie vat hom besitlik aan die arm; Die Baadjiepak se skouers ruk styf toe Mike se hand tastend oor haar boude gly; Marius se metgesel leun besitlik teen hom aan.

Ek groet en loop. Ek is altyd moeg ná my wraakdans. By die deur haal die nuwe man my in. ‘‘Kan ek jou huis toe neem?’’

Ek draai bitsig om; ek vertrou g’n man se danige besorgdheid nie. Dink natuurlik ek is die kantoortert en die eerste stukkie lê al op sy bord.

‘‘Ek het ’n motor en ek kan bestuur, dankie.’’ Ek draai my rug op hom; sy intense kyk torring aan my gemoedsrus.

‘‘Dan ry ek agter jou aan; jou alkoholvlak behoort enige verkeersman se droom te wees.’’ Nie een van my kollegas het nog ooit hieraan gedink nie.

As die man lank genoeg aanhou, begin ek dalk glo hy is regtig besorg. En dit sal die begin van my ondergang wees.

‘‘Jy wil net sien waar ek bly.’’ Aanval was nog altyd my gunsteling-verdediging.

‘‘Daar’s makliker maniere om dit uit te vind. Ek wil jou eintlik iets vra.’’ Hy val in by my treë; vir die eerste keer in al die jare verlaat ek nie alleen die warm kol van lig en samesyn nie.

‘‘Nou toe, vra.’’ Darem maar nuuskierig ook.

‘‘Die plek is nie reg nie.’’ Hy kyk betekenisvol om hom na die kaal, funksionele gang.

‘‘Die tyd is ook nie reg nie.’’ Ek loop vinniger; hy loop ook vinniger.