MY JAARLIKSE vertoning is my eie soete klein wraak op die manlike oorheersers van ons firma en elke ander firma, namens elke vrou wat haar lewe moet skik na die wil van ’n man wat sy manlikheid moet bewys deur ’n vrou te hiet en gebied. Watter man ook al; sy dit wederhelf, baas, kollega, kêrel, seun.

Die enkele aand van die jaarlikse kantoorpartytjie maak ek my formele kapsel los. Ek kombineer my skrapste kledingstukkies sorgsaam tot net-net duskant die onsigbare lyn van welvoeglikheid.

Ek waag met grimering; ek oefen my stap voor my lang spieël. Daardie enkele aand drink ek die manne onder die tafel in, en die pret loop altyd uit op my tafeldansery. Die eerste jaar het dinge hul eie loop geneem; ek was jonk en vrolik en betreklik onskuldig.

Die volgende jaar het die manne eers taktvol en toe openlik geskimp; nou is dit ’n vaste tradisie. Die res van die jaar is ek die perfekte beroepsvrou.

Altyd onberispelik versorg, streng pakkies met sagte bloesies wat net-net ’’n ronding wys, soomlyn kuis, maar die hakke hoog. Altyd volkome professioneel. En magteloos vasgevang onder die glasplafon, die token-vrou wat die beleidmakers se gewete moet sus.

Sonder enige werklike mag. My vroulike kollegas gaan elke jaar omtrent in ’n beswyming van afkeer, maar ek vermoed diep onder in sommige harte lê dalk ’n bietjie begrip vir wat ek doen.

Die res van die jaar is ek een van hulle; dit kos nuwelinge net ’n paar weke om agter te kom g’’n man kom met enige streke van watter aard ook al by my verby nie.

Ek laat geen suggestiewe seksistiese aanmerking ongestraf bly nie en maak doelgerig en doeltreffend jag op verbloemde diskriminasie op elke vlak.

Die herinnering aan die vorige jaar se partytjie bly lê die hele jaar in my manlike kollegas se agterkop (of dalk ’n bietjie laer af ).

Terwyl ek met ’n foutlose voorlegging besig is, begin hul gedagtes dwaal en kry ek die gaping om my stempel op die projek deeglik af te druk. Soms in die middel van ’n redenasie sal Marius stil word en begin staar na my kastige Madonna-mond, my hekse-oë.

Wat my natuurlik die kans gee om hom van die tafel af te vee. Die musiek kom tot ’n ekstatiese einde, ek vries ’n lang oomblik met kop agteroor en arms hemelwaarts gestrek.

Die mans brul en raas soos skoolseuns by ’n interskole; die vroutjies in die hoek klap teen wil en dank bedees die hande. Ek sien hoe Die Baadjiepak oorleun en gerusstellend praat met Pieter se ontstelde vroutjie; die nuwe mevroutjies wil altyd op hierdie punt vir manlief gryp en op versterkwater gaan, bewaar van my grypende kloue.

Dink seker ek gaan nou van die tafel afspring en die eerste die beste man vir die nag gryp.

Hulle het nie ’n idee van die omvang van my minagting vir hul kosbare mans nie.

‘‘Mag ek?’’ ’n Hand word oordrewe sjarmant na my uitgehou. Die waarderende skaretjie om die wikkelende tafel staan ’n treetjie agteruit.

Die nuweling staan voor my, ’n bonkige, donker man met helder raaksien-oë en die skoon geur van tandepasta op sy asem. Die pas aangestelde hoof van die regsafdeling wat vanaand kom inloer het ‘‘om solank die personeel op voetsoolvlak te ontmoet’’–die baas se woorde, nie myne nie. Ek dink hy het ons ou klompie vanaand op ’n vlak ’n hele entjie onder die voetsool leer ken.

Ek aanvaar die hand nonchalant en trap oordrewe grasieus op die stoel wat hy met groot gebaar vir my regskuif. Onder sy berekende blik trek ek my toppie weer aan, vat my hare bymekaar en draai dit met ’n enkele beweging in ’n verbeeldinglose knoets laag in my nek.

Hein Kellerman staan my roerloos en aankyk. Nie ’n spiertjie beweeg in sy gesig nie. Ek weet nie wat hy dink nie, terwyl ek weet ek het die ander klomp vér verby dink gehad.