’n Lagie sweet blink op sy voorkop, sy staan is die effens onseker staan van ’n man wat vermoed hy’t sy limiet reeds oorskry en ook nie meer regtig omgee nie. Hy’s pas geskei, die ego broos en teer nog, die sensuele metgesel nie baie beïndruk met ons ou klompie nie.

Veral nie met my nie; sy’s ooglopend nog nie seker sy gaan die vis ingekatrol kry nie. Dom meisiekind, nog nie besef  ’n vis kan solo swem en dit nog geniet ook nie.

‘‘Nou’s dit darem hoog tyd vir die show!’’ Mike, die grootbaas, wat vir die ander 364 dae van die jaar in suiwer Afrikaans oor ons regeer en al wat vrou is, as juffroutjie aanspreek.

Sy bolwangetjies is hoogrooi, die oë wat 364 dae per jaar moeg en bekommerd lyk, het nou ’n wilderige glans.

Sy vrou het ’n baadjiepakkie en hofskoene aan; sy het áltyd ’n baadjiepakkie en hofskoene aan. Sy drink net sodawater, sy noem hom Pappie en regeer hom 364 dae per jaar met ’n ysterhand. ’n Ysterhand in ’n tuinhandskoen; haar tuin is ’n geil vermenging van wulpse rankers, smeulende tropiese hoekies en preutse stywelip-randakkers.

Haar man háát haar tuin. Ons trek nou by dag nommer 365. Vir dié enkele ou aandjie regeer ék die manne van ons firma, baas inkluis. Die kring trek nouer om my, die mans begin ritmies handeklap: ‘‘Santjie . . . Santjie . . . Santjie . . .”

Ek trek my los toppie stadig en nadruklik uit, vee met my hande die skraps hempie en nousluitende heupbroek oor my kurwes glad.

’n Goeie dosyn helpende hande vee die ete en drinke van die naaste tafel af en lig my met lewensgevaar boop.

Die musiek slaan oor na ’n vreemde stuwende ritme; g’n mens weet waar Warren al sy musiek vandaan kry nie. Met die internet is dit natuurlik doodmaklik om enigiets van enige plek af te kry. En nie net musiek nie.

Iemand sit die helfte van die ligte af; skaduwees versag die lyne op die kringetjie gesigte opgehef na my. Die kloosterkoekies in die hoek verdwyn in die skemer van hul afgryse. Ek ruk my lyf orent, krul om myself asof in pyn, swaai my hare na vore en terug, laat my lippe vogtig halfoop huiwer.

’n Siddering gaan deur die gehoor. Pieter lek ’n keer oor sy lippe, maak sy glas met een beweging leeg, voel-voel na ’n neersitplek terwyl sy oë my gesig nie vir ’n oomblik verlaat nie.

Hy weet te vertel dis my gesíg wat hom mal maak. Elke tweede vrou het ’n mooi lyf aan haar, was sy woorde, maar ek het die mond van ’n Madonna en die oë van ’’n heks.

Persoonlik dink ek ek het ’n taamlik doodgewone gesig. Kunstige grimering is natuurlik ook ’n wonderlike ding om illusies te skep en te behou. Ek gooi my heupe vorentoe; die piepklein diamantjie in my naeltjie kaats die lig dapper terug.

My gesperde vingers gly oor my heupe; my oë vang die gesigte om my een-een vas. Die musiek neem besit van my; die realiteit vervloei in ’n newel van sigaretrook en ekstase.

Ek dans die jaar se frustrasie stuk vir stuk uit my lyf uit. Ek neem wraak vir elke seksistiese aanmerking, elke aanname dat die vrou by die vergadering outomaties die tee moet aandra en koekies gaan koop, elke stoute knipoog, elke effens neerbuigende antwoord op ’n uitstekende voorstel deur ’n vrou, elke effens neerbuigende ‘‘juffroutjie’’, elke paternalistiese verwysing na die girls.