Deur Alta Cloete

EN, twee, drie . . . nege, tien . . . Down!’’ kap die hande met die botteltjies lekkermaakgif ritmies op die afgeleefde kantoortafels met moeë tafelversierings, gehawende southappies en halfleë glase. Dit was ’n lang aand.

Net ’n paar bittereinders hou nog by; ek is weer op pad om my reputasie onder die manne deeglik gestand te doen. Ek gooi my maanhaar agtertoe en keer die botteltjie met ekstra swier in my keelgat om.

En bederf alles deur soos ’n beginner aan die stik te gaan.

My kollegas dink dis maar deel van my jaarlikse show. Hulle lag hulle byna te pletter, joviale hande klap my tussen die blaaie, al wat leef en asemhaal het ’n eiertjie te lê oor die ou glipsie.

‘‘Ag nee, my meisie, moenie vir my sê jy raak nou oud nie?’’ Pieter – blond en beeldskoon– wat my op my eerste dag by die firma langs die fotostaatmasjien vasgekeer en soos ’n amoreuse seekat omsingel het.

Hy’t my nooit die klap vergeef nie; ek sien by elke vergadering waar ek waag om met hom te verskil – en daar is baie – hoe roer daardie klap diep onder in sy geheue.

Sy splinter nuwe vroutjie sit mooi enkeltjies gekruis tussen die dames in die hoek en teug preuts aan ’n glasie witwyn.

Haar onskuldige slaappopogies flits heen en weer tussen my en Pieter, heen en weer.

‘‘Ou Santjie, nee man, jy verloor jou slag!’’ Marius, wat nog nooit weer behoorlik met my gepraat het ná die klag van seksuele teistering nie, al het daar ná al die lawaai dadels van gekom.