Vlooi en die sirkus

Vlooi was nou al op so baie avonture dat die vervaardigers behoorlik moes kopkrap oor ’n nuwe bestemming. Wat kan dan nou opwindender wees as die sirkus?

Die Cirque du Amar, al die pad van Parys, Frankryk, is op die dorp en al wat leef en beef wil na die sirkus gaan.  Vlooi, Wilma en Ouma is van die gelukkiges wat kaartjies kon kry, maar ’n groot tragedie tref die sirkus: waterpokkies.  Net die sirkusmeester, Mario, en sy goëlaar, Carlos, is gespaar van die aaklige rooi kolletjies.  Moet hulle die vertonings kanselleer of kan Vlooi tot die redding kom?

De Klerk Oelofse vertolk die rol van Vlooi, Martelize Kolver is Ouma, Dean Balie is die sirkusmeester, Crystal-Donna Roberts is te sien as Wilma en Jason Barnard van die Zip Zap Circus speel Carlos die goëlaar.

Marinda Engelbrecht maak as regisseur die prentjies en Margit Meyer-Rodenbeck gee as dramaturg die woorde.  Voeg daarby Niel Rademan se musiek en Liande Valentyn se danspassies en jy het ’n mallemeule van kleur en jolyt.

Vlooi en die Sirkus, van Storieboomreeks-faam, is elke weekdag om 09:30 en 11:00 op die verhoog:

  • 11-15, 25-29 Augustus in Afrikaans
  • 18-22 Augustus in Engels

Kaartjies is R70 en R50 vir groepbesprekings. Dit is beskikbaar by Ansunette. Skakel 082-828-8505 of e-pos marinda.vlooi@gmail.com.