Ek moet bieg: Ek het letterlik ’n lys van boeke wat ek reeds gelees het, en ’n lys van boeke wat ek graag wil lees. Daar is iets ontspannends daarin om my boeke vir die jaar te lys. Ek het die slapies na die lente afgeteI omdat daar weer ’n paar boeke verskyn waaroor ek baie opgewonde is. Tot dusver was dit ’n goeie jaar vir boekwurms: Daar was nuwe boeke deur Kate Atkinson, Khaled Hosseini en Neil Gaiman, en die Afrikaanse skrywers Eben Venter, Etienne van Heerden en Deon Meyer het ook hul kant gebring. Daar het selfs stil-stil ’n boek deur JK Rowling verskyn. Hier is drie boeke wat binnekort op die rak gaan wees (en een wat pas verskyn het) waarna ek baie uitsien.

Doctor_Sleep

Doctor Sleep deur Stephen King

Dit is die opvolgboek waarvoor Stephen King-aanhangers al jare wag –36 jaar lank, om presies te wees. Die eerste boek, The Shining, het my as tiener met die ligte aan laat slaap. Aan die einde van die vorige boek is daar drie oorlewendes nadat die bose Overlook Hotel ontplof het en die opsigter, Jake Torrance, dood is. Jack se seun, Danny, die 5-jarige seuntjie wat “redrum” geskree het, is een van die oorlewendes en die nuwe boek vertel sy verhaal. Hy is nou in sy veertigs en ook ’n dranksugtige eenkantmens, nes sy pa destyds. Danny werk in ’n hospitium in Nieu-England, waar hy sy geestesvermoë tot sterwendes se voordeel gebruik – vandaar sy bynaam Doctor Sleep. Intussen is daar ’n groep heldersiende diewe wat teer op kinders met dieselfde vermoë as Danny. Ek het verlede maand ’n uittreksel in die tydskrif Entertainment Weekly gelees en kan nie wag om die boek in die hande te kry nie. King het aan die tydskrif gesê hy het die boek begin skryf omdat hy ook gewonder het wat van Danny geword het. “Elke nou en dan het iemand gevra: ‘Wat het toe met Danny gebeur?’ Ek het geskerts: ‘Hy is met Charlie McGee van Firestarter getroud en hulle het wonderlike kinders!’ Maar die vraag was nogal in my agterkop.”

Koop dit hier. (Let wel: Hierdie is ’n invoerproduk. ’n Plaaslike weergawe sal later vandeesmaand beskikbaar wees.)

bridget jones

Bridget Jones: Mad About the Boy deur Helen Fielding

Sy’s terug! Sy’s terug! Dit is 14 jaar later, Bridget Jones skryf steeds in haar dagboek en ons kry steeds die geleentheid om daarna te loer. Aanhangers was baie in hul skik toe hulle hoor hul geliefde, onbeholpe boekkarakter gaan ’n terugkeer maak. Die skrywer Helen Fielding het aan die BBC gesê sy was gereed om Bridget weer te laat verskyn. “In die lente van verlede jaar het ek ’n nuwe onderwerp gevind en was daar nuwe dinge wat ek wou sê en dinge wat my laat lag het. Dinge wat nie bestaan het toe ek die vorige Bridget geskryf het nie – soos e-posse en SMS’e. Die manier waarop die lewe deur SMS’e en twitter beleef word, het my ’n idee gegee vir ’n nuwe fase in Bridget Jones se lewe.” Dit het alles goed en wel geklink, totdat ’n uittreksel onlangs in ’n Britse koerant verklap het dat Bridget nou ’n weduwee en ’n ma van twee is. Wat?!? Mark Darcy is dood? Sommige aanhangers dreig om die boek te boikot en twitter het gekreun onder lesers se protes. Maar ongeag hoe ontstellend die vooruitsig van ’n Bridget Jones sonder ’n Mark Darcy is, het ek reeds my eksemplaar bestel. Ons sal tot 15 Oktober moet wag om uit te vind wat gebeur het!

Bestel dit vooraf.

police by jo nesbo 

Police deur Jo Nesbo

Watter spanningsverhaalleser kan ’n nuwe boek deur Jo Nesbo weerstaan? Ná die trauma wat die oudpolisieman en antiheld Harry Hole deurgemaak het in die boek Phantom, is dit moeilik om te glo hy sien weer kans om teen die booswigte te baklei in Oslo, Noorweë. Plus, aanhangers was nie seker of hy aan die einde van die vorige boek oorleef het nie. Nesbo het aan crimefictionlover.com verduidelik: “Ek het eintlik Phantom en Police as een boek geskryf, in een lang sitting. Ek het dus reeds Police beplan voordat ek Phantom voltooi het. Die naelbyteinde is so beplan, en daar is wel leidrade in Phantom dat hy sou oorleef.”

Dié boek is reeds beskikbaar en ek is gereed om my weer in Harry se wêreld te verdiep.

Koop die boek hier.

ALLEGIANT-COVER

Allegiant deur Veronica Roth

My lys sou onvolledig wees sonder ’n boek vir jong volwassenes en die Divergent-trilogie is een van my gunstelinge. Ek kan nie wag om weer van Tris en Four te lees nie. In ’n vervalle Chicago is mense in faksies op grond van hul persoonlikhede en vaardighede verdeel: Candor (die eerlikes), Erudite (die intelligentes), Amity (die vredeliewendes), Dauntless (die dapperes) en Abnegation (die onselfsugtiges). Die sestienjarige Tris verskuif vanaf Abnegation, wat glo in die vestiging van vrede deur onselfsugtige dade, na die avontuurlike Dauntless. Daar raak sy by allerhande drama en komplotte betrokke. Daar is ook ’n bietjie romanse tussen haar en haar afrigter, Four. Dit is die laaste boek in die reeks en die fliek wat hierop gegrond is, word volgende jaar uitgereik. Weens ’n verspreidingsglipsie het sommige aanhangers wat hul boeke vooraf bestel het, hul eksemplare heelwat voor die bekendstellingsdatum van 22 Oktober gekry. Die skrywer het op haar blog gevra dat hulle nie details sal verklap nie. “As jy een van die mense is wat Allegiant vroeg ontvang het: Ek sal bly wees as jy tot 22 Oktober wag en dit dan saam met jou mede-Initiates begin lees. Hoewel, ek kan jou nie kwalik neem as dit eenvoudig nié gaan gebeur nie. Ongeag wat jy besluit, vra ek wel dat jy uit goedheid en respek vir jou mede-Divergent-lesers, nie die boek sal bederf deur aanhalings te versprei of details te verklap nie.”

Ek was ongelukkig nie een van die gelukkiges wat my eksemplaar vroeg ontvang het, dus moet ek maar tot 22 Oktober wag.

Let wel: Jy kan dit nog nie plaaslik bestel nie. As jy amazon.com gebruik, klik hier.

Natalie Cavernelis-Natalie Cavernelis