’n Kind se vindingrykheid om in gevaarlike situasies te beland is soms verstommend!

[caption id="attachment_154668" align="alignnone" width="600"]Fotosamestelling: Skermgrepe Fotosamestelling: Skermgrepe[/caption]

’n Australiese peuter het internetgebruikers behoorlik na hul asem laat snak toe dié woelwater binne 21 sekondes iets uitklouter wat lyk soos ’n swembadhekkie en dit oopmaak. Die Facebook-video wat die tweejarige se ma, Wendy Atkinson, op haar eie profiel gedeel het, is al meer as 450 000 keer gekyk en meer as 8 000 keer gedeel.

Klein Brodie – wat in die video op die koop toe in sy doek is – se ma het mense gewaarsku om eers haar hele Facebook-inskrywing te lees voor hulle wegval met snedige kommentaar. Sy maak ook duidelik hoewel dit na ’n swembadhekkie lyk, hulle juis vanweë klein Brodie se ouderdom nog nie ’n swembad laat bou het nie.

Sy het wel die video gedeel om ouers attent te maak hoe vinnig jou kleinding so ’n hekkie kan oopmaak.

Die video van die klein rakker het ook Suid-Afrika se Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se oog gevang en die organisasie het dit dadelik met sy Facebook-volgelinge gedeel.

“Swembaddens is een van die grootste gevare wat kinders in die gesig staar, veral dié onder vyf. Dié video van ’n tweejarige wat teen ’n swembadhekkie uitklim, sal jou koue rillings gee,” skryf die NSRI.

“Swembaddens behoort talle versperrings te hê en heinings (met hekkies!) wat kan sluit. Twee knippies waarby net ’n volwassene kan bykom, is onontbeerlik.”

Kyk hier na die video en lees Wendy se volledige Facebook-inskrywing om te verstaan waarom sy die video gedeel het: