Dit is presies wat met ’n motor in die Amerikaanse deelstaat Indiana gebeur het. En dis nie sommer enige motor nie.

’n Groot limousine was besig om ’n groep tieners na ’n verjaardagpartytjie te karwei toe dit op die treinspoor tot stilstand kom.

Gelukkig was daar genoeg tyd vir almal om uit die motor te kom.

Wat daarna gebeur het, is alles op video vasgelê deur ’n plaaslike fotograaf, Norman Noe, wat die video op sy YouTube-kanaal gedeel het.

In die video kan gesien word hoe desperate toeskouers vergeefs die treindrywer se aandag probeer kry in die hoop dat hy die trein betyds kan stop.

Die reuse-lokomotief, met 10 000 ton se vrag, tref egter die limousine teen ’n enorme spoed en sleep dit honderde meters ver voor dit met slepende wiele tot stilstand kom.

’n Seinpaal langs die treinspoor word afgebreek asof dit van vuurhoutjies gemaak is.

Gelukkig is niemand in die voorval beseer nie. Maar die limousine gaan waarskynlik nie weer partytjiegangers kan vervoer nie.

Bronne: YouTube; Mirror