Oorgehaal vir die lang pad? Die Automobiel Assosiasie se Layton Beard het hierdie raad vir gesinne wat na vakansiebestemmings dwarsoor die land reis.

Automobile_Association_of_South_Africa_(logo)

Desember is hier en in Suid-Afrika beteken dit son, see en vakansie-uittogte.  Alles wat nodig is, van braaigereedskap tot nuwe strandsandale en swemklere is stellig reeds aangekoop. Maar die reis na daardie salige uitspanplek kry dikwels nie voldoende aandag nie.

Die AA het wel 'n paar wenke om jou vakansie-ervaring moontlik aangenamer te help maak.

Beplan jou reis

Maak honderd persent seker jy weet hoe jy by jou bestemming gaan uitkom. Verdwaal op pad soontoe is g'n pret nie. Stel ook vas waar oral julle tolhekke gaan teëkom en maak voorsiening daarvoor. Gaan na www.aa.co.za om jou tolgeld-uitgawes te bereken en/of vir 'n nuttige roetebeplanner.

Gaan jou motor na voor julle vertrek

Om gestrand te raak, is nog erger as verdwaal. As jou motor of enige belangrike onderdeel die gees gee, gaan dit waarskynlik jul vakansie bederf. Onthou ook in Suid-Afrika is hulp deesdae meestal net twee ure ver. Gaan jou voertuig baie deeglik na voordat julle die lang pad vat.

Dit sluit in:

  • Bande (insluitend spaarwiel) en remme
  • Hoof- en remligte
  • Flikkerligte
  • Ruitveërs
  • Stuurmeganisme

Gehoorsaam altyd die padreëls

Moenie die spoedgrens oorskry nie, gord vas, wees op en wakker, moet nooit dronk bestuur nie. As jy ver ry, sal jy waarskynlik met lang stukke enkelbaanverkeer te make kry; en ongelukkig waag baie bestuurders onnodige kanse wanneer hulle ander voertuie verbysteek.

Moet self nooit 'n soliede wit lyn veronagsaam nie en maak altyd eers volkome seker dis veilig om verby te steek.

Baie ongelukke word veroorsaak deur swak oordeel betreffende verbysteekafstand, of bestuurders wat verbysteek wanneer hulle nie veronderstel is om dit te doen nie (byvoorbeeld om 'n draai of voor 'n blinde hoogte).

Gordel vas! geld beslis nie net die voorsitplekke nie

Alle passasiers moet vasgegordel wees. 'n Bestuurder is immers verantwoordelik vir alle passasiers in 'n motor.

Sedert 1 April 2015 moet iedere kind onder drie ook volgens wet in 'n SABS goedgekeurde karstoeltjie reis. As jy dus met so 'n baba wil reis, moet jy allereers verseker jy het 'n behoorlike, wettige karstoeltjie -- en dat dit volgens instruksies vasgeanker word.

Ietwat ouer kinders sal ook 'n SABS goedgekeurde versterkte stoel (booster seat) nodig hê.

Moenie aandag verloor nie

Dis 'n groot bydraende faktor tot motorongelukke; bestuurders fokus op iets anders as die pad voor hulle. Hul praat byvoorbeeld oor hul selfoon of stuur SMS'e, draai om om met passasiers op die agtersitplek te praat, of eet of lees selfs terwyl hulle bestuur.

Selfoongesprekke of SMS'e terwyl jy bestuur is onwettig in SA; in sommige provinsies lê verkeersbeamptes nou in sulke gevalle ook beslag op selfone. Dus, vir jou, jou passiers en ander padgebruikers se veiligheid: hou eers op 'n veilige plek stil voor jy jou selfoon gebruik!

Hou gereeld stil

Die lang pad gaan jou tam maak. Dis raadsaam om elke twee uur of 200 kilometer te stop om bene te rek, vars lug te skep en/of 'n draai in die badkamer te maak.

As jy enigsins te moeg voel om verder te bestuur, hou so gou moontlik stil en rus eers 'n bietjie. Die beste benadering is altyd: eerder 'n bietjie later by jou bestemming as dalk nooit...

Hierdie uittog kan straks ook juis 'n geleentheid vir jou en jou familie wees om êrens op 'n nuwe plek te oornag; iets nuuts op pad na jul bestemming te beleef.

Handhaaf 'n veilige volgafstand

Sal jy betyds kan stop en 'n botsing vermy as die voertuig voor jou skielik remme aanslaan? Dis een van die mees kritieke vrae wanneer 'n mens in verkeer bestuur, veral teen hoër snelhede.

Handhaaf altyd 'n veilige volgafstand van minstens twee sekondes vanaf die voertuig voor jou (en ses sekondes as jy 'n ander voertuig sleep).

Kies 'n merk in die pad voor julle en begin tel sodra die ou voor jou daar verby gaan. Jyself moet dus dan eers ná twee sekondes (tel ``eenduisend, tweeduisend'') ook daar verby... Of ses, as jy iets sleep.

As jy 'n ander voertuig sleep...

Hetsy motor, karavaan of sleepwa -- maak seker dis ook in 'n goeie werkende toestand. Dit geld byvoorbeeld asse, wiele, bande en bakwerk. Elektriese komponente soos rem- en flikkerligte moet ook behoorlik werk.

Gaan hulle maar liefs met elke stilhouslag na. Onthou ook jy gaan heelwat moeiliker stop wanneer jy 'n ander voertuig sleep, en jou brandstofverbruik gaan hoër wees. Maak ook seker jy het spaarwiele vir dit wat jy sleep.

Moet nooit drink en bestuur. Dis drink OF bestuur!

Drink en bestuur werk nooit saam nie. Nooit. Moet dus doodeenvoudig nie bestuur as jy gedrink het nie... en dit geld ook, en veral, as jy met vakansie is.

As jy naby jou bestemming is en wil drink, maar ook jou motor gebruik, kontak liewer die AA se Designated Driver-diens  Hulle sal seker maak jy en jou motor kom veilig tuis. Onthou die wetlike alkoholperk is 0.05, wat neerkom op twee eenhede alkohol. Onthou ook om nooit vriende dronk te laat bestuur nie.

Geniet dit!

Jul vakansie behoort te begin sodra julle in die motor klim. Probeer die rit vir almal aangenaam en genotvol maak... 'n vreedsame, rustige reis beteken almal kom in die regte luim by die vakansiebestemming aan. Ten slotte: Baie mense sterf elke vakansie op SA paaie... jy hoef nie een van hulle te wees nie.