Ons kon ons oë nie glo toe ons in die eerste episode van Survivor South Africa: Maldives sien hoe die deelnemers weglê aan rotvleis nie.

Maar die Survivor-deelnemer Vanessa Haywood sê al gril sy nou nog as sy daaraan dink, sal sy nie huiwer om weer ‘n hap rotvleis te vat as sy weer so honger voel soos daardie dag nie.

“Teen daai tyd het ek in twee dae net ‘n handjie vol rys geëet en ek kon al voel hoe my maag na my niere hap. En kyk, dit was desperate tye en ek was vrek honger,” vertel die blondekop wanneer sy terugdink aan haar tyd op die eiland.

“En dit proe werklik soos gerookte hoender!” voeg sy laggend by.

Die plaasmeisie vertel sy het kleintyd alles van springkane tot hoenderpote en –koppe geëet, maar was tog versigtig vir die rotte omdat sy geweet het hulle dra baie siektes. “Toe die dokter na die tyd vir my vertel ons het ‘n groot kans gevat om rotvleis te eet, het ek dadelik ontwurmingspille gedrink. Sommer twee dosisse om seker te maak.”

Volgens Vanessa was daar maar min kos op die eiland en moes die deelnemers alles probeer.

“Een keer het ons ‘n reuse gapermossel probeer eet, maar dit was aaklig. Dit proe soos waterige, slymerige spons en boonop vind ons toe uit dit is ‘n bedreigde spesie. ‘n Ander keer het ek sommer miere probeer eet, maar dit was vreeslik bitter.”

Vanessa vertel haar tyd op die eiland het haar baie laat dink hoe erg dit moet wees vir al die arm mense in Suid-Afrika wat nie elke dag kos het om te eet nie. Nou wil sy graag betrokke raak by ‘n voedingsprogram om die mense te help.