Met daardie popgesiggie vol wysheid kyk sy ’n oomblik strak in die verte ... en dan begin die musiek, haar oë verhelder en haar stem sweef soos dié van ’n nagtegaal deur die vensters van hul pondokkie na al die huisies in die omtrek.

Dis hoendervleisoomblikke wanneer hierdie jong finalis in die werklikheidsreeks Supersterre hier in hul plakkersbuurt sing, met die lyfie wat ritmies saampraat in die piepklein allesineen-sitkamer-, kombuis- en televisiekamer.

Buite die voordeur is ’n geskarrel en geroep soos almal in die omgewing aangehardloop kom om hul heldin te hoor sing: ou raise me up, so I can stand on mountains...’

Marcia Lombard is op 14 jaar die jongste finalis in die derde Supersterrereeks, en anders as haar medefinaliste het sy nooit sangopleiding gehad nie.

Dit was ook so hittete of sy was nie meer in die reeks nie, want die beoordelaars het besluit sy moet die vierde finalis word wat uitgestem word – al kon een van hulle, Shaleen Surtie-Richards, nie die trane keer toe dit gebeur nie.

Groot kameramanne het self blinkoog geraak en ook Patricia Lewis, die skepper en vervaardiger van die reeks, moes na ’n sneesdoekie reik. Maar Marcia se ster het nog lank nie verskiet nie, want dit is nie die beoordelaars nie, maar die miljoene televisiekykers landwydwat danksy hul SMS’e die laaste sê het.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 3 Junie 2010.