Deur JOSHUA CARSTENS

Foto’s: ROWYN LOMBARD

Dit klink mos na iemand wat vir niks skrik nie.

'Ek is versot op bak. Dis soos joga in die kombuis. Ek is nie kreatief nie, maar bak is my terapie.'

Maar in Donderdagaand se aflewering van Koekedoor het Valerie onverwag die trekpas gekry in die tuisnywerheid-uitdaging.

Sy het kykers laat proes van die lag toe sy haar koeke met ’n waterpas en liniaal meet. “Dit kan mos nie skeef wees nie,” verdedig sy haarself. “Mense kan maar spot, maar dit werk.”

val 3

Om te bak is nie vir sussies nie, waarsku dié 40-jarige selferkende perfeksionis en ma van twee met die intrapslag toe ons gaan kuier in haar ruim huis in Northcliff, Johannesburg. “Dit,” sê sy en wys na die bakpan op die tafel, “is ’n presiese wetenskap. Jy moet dit ernstig opneem.

“Ek is versot op bak. Dis soos joga in die kombuis. Ek is nie kreatief nie, maar bak is my terapie.”

So gek is sy na bak, daar is ’n “koekiekamer” langs haar kombuis. “Dis ’n vertrek waar ek al my bakgerei berg. Ek is baie puntenerig.”

val 1

Valerie is van kindsbeen af daarop gesteld dat alles foutloos moet wees. Sy het uitgeblink in skaak, redenaars en swem. Tussen 2007 en 2009 het Valerie ook elke jaar die Comrades-marathon voltooi.

“Ek gee nie moed op nie en wil die beste wees. Dieselfde geld as ek ’n koek of ’n tert maak. Mense sê ek is te perfeksionisties, maar vir my is dit ’n kompliment.”

Valerie glo vas sy is gebore om te kan bak. “Niemand in my familie kon bak nie en ek is nie baie daaraan blootgestel nie.”

Sy het op sewe haar eerste baksel in haar ma se oond gemaak. “Dit was ’n appeltert en almal was baie beïndruk deur die gr. 1’tjie wat so kan bak,” onthou sy.

“Ek het nie ’n idee waar my liefde vir bak vandaan kom nie. Dis asof dit in my DNS is. Die oomblik dat ek kon lees, het ek resepteboeke begin lees. Vandaar kon niemand my keer nie.”

Sy het al die uitgawes van Huisgenoot Wenresepte deurgewerk en verskillende koeke, terte en koekies gemaak.

val 2

“Ek het elke Kersfees blikke vol koekies en terte gemaak. Later het ek kolwyntjies en klapperys op die skoolterrein verkoop,” sê sy trots. “Terwyl die ander kinders lootjievorms moes invul vir geldsinsamelings, het ek verkies om my bakwerk te verkoop.”

Valerie het later vir die bure se kinders verjaardagkoeke gebak en al wat ’n nuwe resep is, beproef. “Ek het dit alles gratis vir mense gegee. Dis hoekom ek dit nooit as ’n beroep sal kan doen nie,” skerts sy.

'Ek het later die flops begin wegsteek net sodat hulle nie op my moet toesak en my ’n duisend vrae daaroor vra nie.'

Sy wag al lank vir ’n geleentheid om haar bakvernuf ten toon te stel en toe sy sien Koekedoor soek deelnemers, het sy die kans dadelik aangegryp.

“As ’n ma van twee klein kinders, het ek min tyd vir myself. Toe ek hoor daar is ’n bakprogram in Afrikaans, wou ek inskryf omdat ek iets vir myself wou doen,” sê Valerie.

“Ek het opwinding nodig gehad, maar nooit gedink ek sou die paal haal nie.”

Vir haar oudisie moes sy suurlemoenmeringue maak. “Dis so ’n eenvoudige resep, maar almal hou daarvan.”

Sy erken sy was aanvanklik op haar senuwees; van die ander deelnemers was veel meer ervare.

“Veral die eerste twee episodes was baie spanningsvol. Ek het egter vinnig geleer hoe die spel werk. Om vir ’n werklikheidsprogram te bak is nogal iets anders: die kameramanne staan soos haaie en wag dat jy ’n flop maak. Hulle wil bloed ruik,” grap sy.

“Ek het later die flops begin wegsteek net sodat hulle nie op my moet toesak en my ’n duisend vrae daaroor vra nie.”

Dit het haar baie gepla dat sy tydens die eerste vier aflewerings drie keer een van die swakste deelnemers was.

“Dis senutergend,” sê sy. “Ek kan dit nie verdra om iets nie reg te kry nie.”

Sy kom agter die program het mense landwyd aan die bak gekry.

“My tweelingsuster, Jennifer, het glad nie van bak gehou nie, maar nou het sy resepteboeke begin koop en bak sy koek.”

Sy geniet die aandag van die publiek en dis vir haar lekker wanneer mense haar in winkelsentrums voorkeer, sê Valerie.

“Almal is gelukkig baie vriendelik en niemand wys my op my foute nie. Hulle sê maar net hoe goed ek bak. Ek kry ook baie boodskappe op Facebook.”

“Ek wil graag ná die kompetisie opheffingswerk doen: ek wil werklose vroue leer bak en hulle help om hul gebak te verkoop.”

Sy sal die inkomste van dié onderneming in ’n fonds wil sit sodat die vroue se kinders universiteit toe kan gaan.

Wanneer Valerie nie in die kombuis doenig is nie, hou haar man, Charl (42), en twee kinders, Emma (3) en Dian (1), haar besig.

val 4

“My gesin is vir my baie belangrik. Ons het laat met ’n gesin begin, maar nou kan ek my nie ’n lewe sonder hulle indink nie.

“Emma en Dian sal soms by my in die kombuis kom sit as ek bak en ’n hond uit ’n bos oor my baksels gesels. Dis baie spesiaal.”

Tussendeur kry sy ook tyd om te oefen en stap ses oggende per week 40 minute lank.