FROZEN (O)

Dié Disney-fliek, wat tans in bioskope draai, is beslis ’n hoogtepunt en een van die beste animasierolprente in die Disney-stal. In die fliek moet die vreeslose heldin Anna ’n epiese reis onderneem om haar suster Elsa op te spoor. Elsa se towerkragte het hul koninkryk in ewige winter gehul. Lekker kykgenot vir die hele gesin.

MANDELA: LONG WALK TO FREEDOM (10TPSG)

As jy nog nie dié fliek gesien het, maak seker jy kom by jou naaste rolprentteater uit. Die Britse akteur Idris Elba het reeds ’n benoeming vir beste akteur losgespeel vir die 2014 Golden Globes vir sy spel as ons geliefde Madiba.

GRAVITY (7-9 OT)

Sandra Bullock speel die hoofrol in dié wetenskapfiksie-prent teenoor George Clooney oor ruimtevaarders wat in die ruimte verlore raak. Die fliek het vier Golden Globe-benoemings losgeslaan, insluitend beste drama en beste aktrise (Bullock).

NOW YOU SEE ME (13T)

’n FBI-agent en Interpol-speurder moet ’n groep kulkunstenaars, wat bekend is as The Four Horsemen, vastrek. Hulle beroof banke in ander stede terwyl hulle op die verhoog is in ’n heel ander stad. Jy sal nie ’n oomblik verveeld wees nie, maar sal heeltyd wonder: Hoe doen hulle dit? Groot name soos Woody Harrelson, Morgan Freeman en Jesse Eisenberg is  in die rolverdeling.

WORLD WAR Z (13G)

As jy hou van zombie-flieks, is dié apokaliptiese rolprent so reg in jou kraal. Brad Pitt speel ’n pa wat sy gesin en die wêreld moet red van ’n inval van zombies. Kyk uit vir die Suid-Afrikaanse akteur Fana Mokoena, wat voorheen in die sepie Generations was. Dis aksie van begin tot einde.

Lara Atson