Hoe was dit om saam met Demi Lovato te werk aan jul nuwe snit, Somebody to You?

Dit was baie koel. Ons het haar omtrent twee maande gelede in Londen ontmoet en die musiekvideo in Malibu en Kalifornië opgeneem. Ons hou baie van Demi. Veral Tristan is ’n reuse aanhanger. My gunstelingliedjie van haar is Heart Attack.

Julle is trots daarop dat julle self al jul musiek skryf. Waar kry julle inspirasie?

Ons skryf oor meisies en die lewe in die algemeen. Ek en Brad skryf al jare. Dit begin gewoonlik met een idee en dan vat jy dit van daar af verder.

Wat is van jou gunstelingsnitte op jul debuutalbum, Meet the Vamps?

Ek is mal oor Somebody to You en ek hou daarvan om dit voor gehore te sing. Ek hou ook van High Hopes, wat ons saam met die Britse rockgroep McFly geskryf het.

Hoe oud was jy toe jy begin musiek maak het?

Ek was omtrent nege of 10 jaar oud en het saam met skoolmaats kitaar gespeel. Niemand in enige van ons gesinne is musikante nie.

Watter werk sou jy doen as jy nie ’n musikant was nie?

Ek sou aan ’n universiteit studeer – waarskynlik Engels of geskiedenis. Op skool was my gunstelingvakke Engels en geskiedenis. En my swakste was wiskunde.

Wat vat jy altyd saam as jy toer?

’n Xbox en musiek. Ons luister countrymusiek – Florida Georgia Line, Taylor Swift en Ed Sheeran. Ons het al ’n paar keer vir Taylor ontmoet. Ek sou graag wou sê ons is vriende. (lag)

Onder julle aanhangers tel ’n paar beroemdes, selfs die voormalige Amerikaanse presidentsvrou, Hillary Clinton . . .

(Lag) Ja! Ons was by ’n radiostasie (in Julie vanjaar in Londen) en sy was daar en het ons herken. Sy was baie gaaf. (Die groep het ná die ontmoeting getwiet: ‘Haha @HillaryClinton het so pas na ons toe gekom en gevra of ons The Vamps is. Ons is almal verward en beïndruk. Sy is sooo vriendelik!’)

Wat is die vreemdste geskenk wat julle al by ’n aanhanger gekry het?

Hare!

Hoe voel dit om met groot name soos One Direction vergelyk word?

Ons hou van One Direction.

Julle het al saam met Taylor Swift en Selena Gomez getoer. Wie was julle gunsteling?

Ek sou sê Taylor Swift.

Is julle almal enkellopend? Sou jy ooit met ’n aanhanger uitgaan?

Ja, die meeste van ons is enkellopend. En ja, ons sal met ’n aanhanger uitgaan. Hoekom nie?

Op watter bekendes is julle ’n bietjie verlief?

Ons het almal beroemdes op wie ons verlief is. Brad hou van (die ster van New Girl) Zooey Deschanel. Ek hou van Taylor Swift.

Met watter bekende sou jy vir 24 uur wil plekke ruil?

Zac Efron, want ek sou graag wou toneelspeel.

Beskryf ’n tipiese dag vir The Vamps.

Ons is 24 uur per dag saam. Ons werk nie juis op mekaar se senuwees nie, want ons hou daarvan om saam uit te hang.

Wat doen julle in jul vrye tyd?

Ek hou van stap. En ek en die res van die ouens gaan gim toe en speel Xbox.

As jy ’n dag lank met een van die groeplede kon plekke ruil, wie sou dit wees?

Waarskynlik Tristan. Hy kan tromme speel.

Wie neem die langste om reg te maak voor ’n optrede?

Brad. Hy moet sy stem opwarm.

Is daar enige divas in julle groep?

Nee.

Na watter musiek luister julle op die oomblik?

Ed Sheeran se album X. Ek het baie gunstelinge, soos One. Maar ek hou van sy hele album.

Wat is jou luitoon?

Die klank van ’n telefoon wat lui. (lag)

Wie is jou rolmodel?

Ed Sheeran. Hy is nederig.

Was julle al ooit in Suid-Afrika? Kan ons ’n toer verwag?

Nee, ons was nog nooit in Suid-Afrika nie, maar ons sal graag wil kom kuier. Dalk sien ons julle volgende jaar.

Die pad na roem

In 2011 het James nog alleen opgetree, maar besluit toe om ’n musiekgroep te stig. Hy het Brad op YouTube ontdek. Hulle het saam liedjies begin skryf en Brad het toe die voorsanger geword. ’n Jaar later het Brad vir Tristan op Facebook opgespoor en die drie het oudisies gehou vir ’n baskitaarspeler. Die laaste groeplid, Connor, is so gekry en ’n jaar later het die vierstuks ’n platekontrak losgeslaan.

Het jy geweet? Vroue-aanhangers van The Vamps staan bekend as Vampettes. Die ouens is Vampions.

5 dinge wat jy oor elke groeplid moet weet

Connor Ball (18)

-       Hy is die jongste én kortste groeplid. Hy is 1,7 m lank.

-       Connor is glo die beste danser in die groep en slaap ook die meeste.

-       Hy het ’n troetelakkedis, Rex, en ’n marmot, Harry.

-       Hy is allergies vir grondbootjies en is ’n asmalyer.

-       Sy groeplede dink almal hy is die windmakerigste lid van die groep omdat hy pal met sy voetbalvernuf spog. Hy is ook mal daaroor om sy nek te laat klik.

Brad Simpson (19)

-       Hierdie hartebreker kan nie net sing nie, hy kan ook die kitaar, klavier en ukelele tokkel.

-       Hy is ’n hondeliefhebber. Sy hond se naam is Jesse.

-       Jy sou seker al kon raai hy is dol oor selfies, maar jy weet dalk nie dat sy ma nog sy hare sny nie. Te oulik.

-       Die 2012-aksiekomedie 21 Jump Street is een van sy gunstelingrolprente.

-       Sy gunstelingvrug is ’n kiwivrug en hy is versot op vitamienwater. En as hy onsigbaar kon wees? Dan sou hy James na die badkamer volg, sê Brad.

James McVey (20)

-       Hy’s mal oor katte. Sy kat se naam is Mickey en hy’t ook ’n marmot.

-       James sê Owl City en Taylor Swift is van die kunstenaars wat hom inspireer.

-       Hy haat spinnekoppe.

-       Volgens ’n onlangse skinderstorie is hy en die 18-jarige aktrise Sophie Turner ’n paartjie. Sy vertolk die rol van Sansa Stark in die TV-reeks Game of Thrones, maar het enkele dae ná die gerugte op Twitter teruggekap en gesê “Hou asseblief op om vir my teksboodskappe te stuur. Dit raak nou grillerig, en ek is jammer, maar ek stel nie belang nie.” Eina.

-       Hy is ’n reuse aanhanger van Lord of the Rings en hy erken sy gunstelingbleeksiel-tydverdryf is die rekenaarspeletjie World of Warcraft.

Tristan Evans (20)

-       Vergeet katte en honde – Tristan het twee perde en ’n haas.

-       Hy dink Harry Styles (20) van One Direction-faam het goeie smaak in vroue en sou graag met Hazza se eksmeisie, die werklikheidstelevisiester en model Kendall Jenner (18), wou uitgaan.

-       Sy gunstelingfliek is die wetenskapsfiksieprent Avatar van 2009.

-       Tristan en James is die langste groeplede. Hulle is albei 1,82 meter lank.

-       Sy gunstelingliedjie is I dont want to miss a thing, deur Aerosmith.

-       Lara Atson

Bykomende bronne: Onepopz.com, contactmusic.com, thefactsite.com, dailystar.co.uk, bbc.co.uk