Wat dink jy van jul sukses?

Ons hanteer ons orkes elke dag soos ’n loopbaan. Aan die begin was daar baie leë vertonings, baie hartseer . . . Maar die laaste jaar het dit dol gegaan (lag)!

Op watter ouderdom het jy begin kitaarspeel?

Twaalf. My pa het ’n wonderlike plateversameling gehad, en ek het by sy studeerkamer ingeglip om na ou plate te luister. Ek het geluister na die Beatles, Led Zeppelin . . .

Hoe het julle ouens ontmoet?

I het die Berklee College of Music (in Boston, Massachusetts, in Amerika) bygewoon, waar ek ’n paar van die ander orkeslede ontmoet het. Ek was besig om ’n komponis te word. Ons het elkeen ons eie paadjie gevolg voor die groep (in 2008) gestig is.

Kan jy jul eerste optrede onthou?

O ja! Ek sal dit nooit vergeet nie. Dit was in Las Vegas in ’n rock-kroeg. Iemand is geskiet en die plek is gesluit. Ons orkes was vyf dae oud.

Julle het aan die begin in baie casino’s gespeel. Hoe het dit gevoel om jul eerste album in een op te neem?

Dit was op ’n vreemde manier gerusstellend. Ons het elke dag daar ingestap en dobbelmasjiene gehoor. Dit was baie bekend.

Wanneer kan ons nuwe materiaal verwag?

Ons is altyd besig om te skryf. Ek voel nogal vreemd en van koers af wanneer ek nie skryf nie. Wanneer ons reis is ons altyd besig op ons skootrekenaars.

Die orkes se naam is ’n geheime anagram . . .

Aan die begin wou ons nie so geheimsinnig wees nie. Namate ons gewilder geword het, het aanhangers begin raai wat die naam beteken. My gunsteling-raaiskote is Angie Digs Roman en Migraine Gonads.

Het een van julle interessante stokperdjies?

Ben (McKee, baskitaarspeler) brei graag. Hy is baie moederlik. Hy brei selfs tafelmatjies.

Imagine Dragons is al vergelyk met The Killers. Hoe voel jy hieroor?

Ek dink ons word vergelyk omdat ons albei van Las Vegas kom. Nie baie orkeste kom van die stad af nie. The Killers is fakkeldraers vir Las Vegas en ons respekteer hulle.

Waar woon julle nou?

Ek het nie ’n plek nie. Ek het daarvan ontslae geraak. Almal in die orkes is nou haweloos. Ons reis al ’n jaar lank en ons gaan weer op toer.

Enige planne om Suid-Afrika te besoek?

Ja, SA is beslis op ons radar vir volgende jaar – heeltemal!