Hulle weet almal van braai en is lief daarvoor om sommer in die week ’n vuurtjie by die huis aan te steek. Maar waar gaan eet die Ultimate Braai Master -The Roads Less Travelled-deelnemers braaivleis wanneer hulle nie lus het om dit self te maak nie?

Samantha van Niekerk van die Ying Yang-span sê vir ’n lekker lamsosatie gaan sit sy aan by die Karoo Café in Die Wilgers, Pretoria. “Die stukke vleis is groot, bonkig en smaaklik,” sê sy.

Nomthandazo Sithole van die Sumting Fresh-span verkies weer die braaivleis by Lapeng in Sebokeng in die suide van Gauteng. Die vleis is lekker, maar eintlik is die tjakalaka haar gunsteling.

Jolene Arries en haar Mojo-braaimaat, Ashok Naidoo, sê weer Panyaza shisa nyama in Soweto is hul gunsteling. Wanneer hulle daar inskep is daar sommer ’n groot verskeidenheid vleis op hul bord. “Die atmosfeer is vriendelik en die gaste uiteenlopend,” sê Jolene.

Simon Good van die Smoke, Sweat & Tears-span sê hy hoor die BBQUES-restaurant op die landgoed Groot Constantia is die beste plek vir braaivleis, maar hy braai liewer self.

Kyk Ultimate Braai Master -The Roads Less Travelled elke Woensdagaand om 20:30 op SABC3.

– ALET VAN ZYL