Het jou nuutste braairesep jou familie en vriende gister op Braaidag diep beïndruk? Maar die vraag is, sou die Braai Master-beoordelaars, Justin Bonello, Bertus Basson en Petrus Madutlela, ook gedink het jou buitelug-kookvernuf is uit die boonste rakke? Of sou hulle jou dalk die trekpas gegee het?

“jy sal nooit weet tot jy nie probeer het nie”

Dit is presies wat vanaand in Ultimate Braai Master gebeur wanneer nie een nie maar twee spanne huis toe gestuur word. Wie sal dit wees? Kyk (Donderdag 25 September) om 20:30 op e.tv na die derde aflewering van dié spannende werklikheidsreeks om uit te vind.

Verlede week het kykers gesien hoe Smokey and the Bandit die eerste span in die reeks was wat hul goedjies moes pak. Dié Durbanse broer en suster, Barend (31) en Lente Deminey (26), se spanleuse was “jy sal nooit weet tot jy nie probeer het nie”.

Juis daarom het hulle ingeskryf, vertel Barend, “om te sien waartoe ons in staat is”.

Vanaand reis die oorblywende 14 spanne na die Kaap Columbine-natuurreservaat aan die Weskus waar hulle in drie strawwe uitdagings moet wys wat in hulle steek. En natuurlik voer Justin en sy medebeoordelaars ’n verrassing vir die deelnemers in die mou.

Wie dink jy gaan vanaand die trekpas kry? Barend en Lente Deminey (foto), van die Smokey and the Bandit-span, het hul bes gedoen om die beoordelaars te beïndruk, maar helaas...

braaimaster