BELÉN, ARGENTINIË – Die skof is as gevolg daarvan tot ’n skrale 90 km vir die motors en vragmotors verkort, terwyl die motorfietsjaers die volle 285 kilometer afgelê het.

Die verkorte sneltrajek het vir die Toyota Gazoo Racing SA-renspan weer gemengde sukses opgelewer, en die Dakar-veterane Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, het die beste van die Toyotas gevaar.

Lees ook:  Dakar 2016: “Die nuwe Hilux – op elke denkbare manier beter”

Sneltrajek 9, wat ’n sirkelroete oor 285 km oor talle sandduine naby Belén in Argentinië moes wees, was duidelik baie meer geskik vir die V8-aangedrewe Toyota Hilux-renbakkies. De Villiers en sy spanmaats, Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, het met vlieënde vaandels weggespring; trouens, Poulter het by die eerste navigasiepunt tot net twee sekondes agter die voorste jaer opgeskuif.

“Sake het ongelukkig van toe af nie volgens plan verloop nie,” het Poulter gesê nadat hulle by die oornagtentkamp aan die einde van die verkorte sneltrajek aangekom het. “Ons het vir ’n oomblik gehuiwer toe ons ’n moeilike skeurvallei bereik. Ons het oral rompstukke van ’n Peugeot sien rondlê, en was as gevolg daarvan oorversigtig.”

Lees ook: Gesteelde motor ná 22 jaar gevind

Poulter/Howie (#319) het heelwat tyd in die vallei verloor voor hulle hul weg versigtig met die roete langs gevind het. Hulle het twee pap bande opgedoen, en die eindpunt eindelik in die 11de plek vir die dag gehaal ? net meer as 16 minute agter die sneltrajekwenner, die Peugeot-jaer Carlos Sainz. Die gevolg is dat Poulter/Howie op die algehele uitslae tot sewende teruggesak het ? net minder as twee minute voor hul spanmaats Yazeed al Rajhi en sy navigator, Timo Gottschalk (#305).

Al Rajhi/Gottschalk was agtste in die sneltrajek en 9:38 agter Sainz. Hulle het ook goed weggespring, maar gesukkel om die eerste navigasiepunt te kry en bykans 13 minute in die sneltrajek verloor. Hulle het egter goed teruggeveg om die skade te beperk, en is nou in die sesde plek algeheel.

Maar die vertoning van die dag het aan De Villiers/Von Zitzewitz (#301) behoort nadat hulle die vorige dag teleurstellend swak in Sneltrajek 8 gevaar het. Hulle het in Sneltrajek 9 goed herstel en die pap dik aangemaak, en was ten spyte van ’n pap wiel halfpad deur die sneltrajek die vierde vinnigste vir die dag, maar net 38 sekondes agter Sainz. Dit het hulle die vyfde plek algeheel laat inneem met nog vier sneltrajekte oor.

“Die terrein van Sneltrajek 9 was uiters rof,” het die spanhoof, Glyn Hall, in Belén gesê. “Ons is baie tevrede dat al drie ons motors foutlose verrigting gehad het, en is trots daarop dat die Toyota Hilux so betroubaar is.”

Al drie die span se motors het ná Sneltrajek 9 nuwe dryfasse gekry ter voorbereiding op wat waarskynlik die deurslaggewende sneltrajek van Dakar 2016 gaan wees. Sneltrajek 10 neem die deelnemers deur die berugte sandduine in Fiambalá oor ’n afstand van 278 km. Dit word gevolg deur ’n lang ooppadgedeelte van oor die 400 km tot by die stad La Rioja.

Die Dakar het nog vier sneltrajekte, waarna die byeenkoms Saterdag 16 Januarie in die Argentynse stad Rosario eindig. Soos sake nou ná Sneltrajek 9 staan, word die drie Toyota Gazoo Racing SA-Toyota Hilux-renbakkies deur net 10 min. 7 sek. van mekaar geskei, en hoewel die span steeds hard baklei om plekke in die algehele uitslae op te maak, is die binnestryd duidelik hard aan die woed. De Villiers is op die oomblik voor, maar sy spanmaats blaas in sy nek, wat in die laaste vier sneltrajekte gewis vir ’n interessante stryd sal sorg.

BRON: quickpic.co.za

.